GEORGE NUUS - Pacaltsdorp se gemeenskaps-polisiëringsforum (GPF) het op Menseregtedag, Maandag 21 Maart, na die Rygerpark-gebied uitgereik in 'n poging om geweld onder kinders in dié gebied onder die loep te neem.
Tesame met lede van die plaaslike buurt- en plaaswagte, polisie, lede van Pacaltsdorp Sekondêr se beheerraad, verkeer en die Pacaltsdorp-perdryklub, is 'n imbizo in Rygerpark gehou om veral geweld en misdaad in skole te bespreek.
"Ons het onder andere vandalisme by die skool [Pacaltsdorp Sekondêr], diefstal, inbrake en sogenaamde bendebedrywighede, bespreek," sê Pacaltsdorp-GPF se voorsitter, Charly Daman.
Dit volg na 'n onlangse vlaag gewelddadige aanvalle op leerders van Pacaltsdorp Sekondêr wat daartoe gelei het dat die hulp van die plaaslike buurtwag en die polisie ingeroep is.
"Genoeg is genoeg. Dit is die ouers se verantwoordelikheid om hul kinders op te voed en te beheer. Kinders loop met kapmesse in ons strate rond en daar is geen wet en orde nie," sê Daman.
Daman en die GPF is ook besig om handtekeninge bymekaar te maak in 'n poging om die minister van polisie, Bheki Cele, na Pacaltsdorp te bring.
"Ons wil graag hê Bheki Cele en die nasionale kommissaris moet Pacaltsdorp besoek sodat hulle uit die gemeenskap se monde kan hoor dat ons gans te min lede by Pacaltsdorp-polisie is. Dit is hoekom ons mense gebuk gaan onder geweld en misdaad," sê hy.
Verskeie rolspelers, insluitende lede van die plaaslike polisie, het Maandag in Rygerpark bymekaargekom om na die gemeenskap uit te reik.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'