'n Amptelike bekendstelling van die Pacaltsdorp 200-jarige fees en onthulling van die feeslogo is Saterdagoggend in Pacaltsdorp se banketsaal gehou. Die fees, met as tema 'Wonderbare Geloof' ('Amazing Faith'), skop op 6 April af met 'n burgemeestersdinee in die gemeenskapsaal. Eerwaarde Gerhard Human, leraar van die kerk, het tydens die bekendstelling gesê hulle wil met die fees die rol van alle persone en organisasies wat Pacaltsdorp se eertydse geloofsgemeenskap help vestig het, vier.
Benewens verskeie aktiwiteite en feesgeleenthede wat gedurende die jaar beplan word, sal die feeskomitee poog om die kerk se heining wat gedeeltelik tydens die kerk se restourasie opgerig is, te voltooi. Die komitee wil ook met die raad in gesprek tree oor die skep van 'n museum in die bouvallige ou raadsaal vir die bewaar van gedenkwaardighede.
'n Gedenkmuur en 'n standbeeld van eerwaarde Charles Pacalt, die eerste sendeling in die gebied, sal opgerig word. 'n Kunstenaarsuitbeelding van die omgewing sal op die muur aangebring word.
Andy Lamont, die programdirekteur en ontwerper van die feeslogo, het in 'n kort oorsig gesê die geskiedenis van Pacaltsdorp was 'n ware reis van geloof, wat saamhang met die feestema. Hy het onder meer verwys na die waardevolle werk wat eerw. Pacalt gedoen het. "Hy het strate gebou, mense van landbou geleer en as onderwysers opgelei." Eerw. Pacalt is opgevolg deur verskeie ander predikante en die plek het gegroei tot 'n gemeenskap wat trots is op wat hulle opgebou het.
Eerw. Human het gesê die herdenkingsjaar sal nie net om die feesvieringe gaan nie, maar sal 'n voortsetting wees van die pilare waarop hul erfenis gebou is, naamlik die opheffing van mense, die vorming van vennootskappe tot voordeel van almal en die bevordering van diensbaarheid aan ander.
Saterdag se bekendstelling is met 'n deftige tee in die Pacaltsdorp-gemeenskapsaal voorafgegaan waar meer as 200 gaste geluister het na die kunstenaarspreker, Tony Noble.
Die feesprogram eindig einde Maart volgende jaar.
Die feeslogo bevat 'n voorstelling van die klipkerk se toring, 'n duif as 'n simbool van vrede, hande wat boontoe wys as erkenning van die seëninge van Bo oor die afgelope 200 jaar, en die Outeniqua-berge as erkenning van die inheemse mense se bydrae tot die geskiedenis. Lamont het gesê die blou is 'n sterk kleur wat die boodskap uitdra en is ook die amptelike kleur van die Independente kerk.
Sien nog foto's hier.

Burgemeester Charles Standers (naaslinks), 'n eregas by die amptelike bekendstelling van die Pacaltsdorp 200 Jaar Fees, skud blad met die leraar van die Independente Kerk, eerw. Gerhard Human. Links staan die programdirekteur, Andy Lamont en heel regs is dr. Aubrey Douglas, voorsitter van die reëlingskomitee.
ARTIKEL EN FOTO'S: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS