GEORGE NUUS - Paasfees is een van die belangrikste datums op die Christelike kalender. Christene kry die naweek geleentheid om dit eerstehands te beleef.
Die NG Kerk Die Vleie bied die naweek ‘n baie interessante program aan. Luidens ‘n gemeentevrystelling is Paasnaweek ‘n lekker tyd om familiebande te verstewig.
Dit is egter baie meer as net ‘n langnaweek. Dit is die naweek waarin die belangrikste Christusfees plaasvind - veel meer belangrik as Kersfees.
Dis die naweek wanneer Christene Jesus se sterwe aan die kruis en sy opstanding uit die dood herdenk en waardeur alle mense van ‘n ewige dood gered word deur in Jesus Christus te glo.
As deel van die gemeente se Paasnaweek-aktiwiteite word 12 kruisstasies van Jesus in die gemeente se pragtige tuine aangebied.
Almal is welkom om dit gratis by te woon. Kom sit by elke kruisstasie, lees en beleef die oordenking wat uitgestal word en dink in stilte daaroor na. Die terrein sal van 6 tot 10 April oop wees vanaf 09:00 tot 16:00.
Paasspel
Stefanie Botes, skrywer, regisseur en voormalige radio-omroeper, het ‘n uitstekende Paasspel geskryf by name, Nie teen vlees en bloed …
Dit word op 6 en 7 April om 18:00 opgevoer en toegang is R50 vir volwassenes en R20 vir kinders.
Kaartjies kan bekom word by Willie Verwey by 082 871 4991.
Die gemeente het op Vrydagoggend om 09:30 ‘n Nagmaalsdiens in hul kerkgebou en die hoogtepunt is Opstandingsondag wanneer die fees in die kerksaal afgesluit word met die laaste deel van die toneelstuk. Kom deel in die vreugde van hierdie fees wat so baie mense in die wêreld al tot ander insigte gebring het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’