GEORGE NUUS - "Hy was baie lief vir dans, musiek en sy twee kinders. Hy was lief vir die lewe en het almal altyd laat lag. Hy het gehelp waar hy kon en niks was ooit vir hom moeite nie. Hy was 'n liewe kind."
Só sê Clinton Bekker (43) se ma, Maria Posthumus, ná hy verlede Donderdagaand, 18 Februarie, omstreeks 23:30 in 'n motorongeluk by die berugte lughawekruising op die R404 oorlede is.
Bekker en 'n vriend, die bestuurder van die paneelwa waarin hulle gery het, was glo onderweg van Mosselbaai na George toe die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het.
Die voertuig het 'n boom langs die pad getref en daar tot stilstand gekom. Bekker is op die toneel dood verklaar. Die bestuurder het ernstige beserings opgedoen en is na die hospitaal geneem. Hy is intussen ontslaan.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, kon die presiese oorsaak van die ongeluk nog nie bevestig word nie. Die saak word nog ondersoek. Geen ander voertuie was in die ongeluk betrokke nie.
Bekker sou in April verjaar. Hy laat sy ma, sy pa, Neels Bekker, sy suster, Nicolene Luff wat tans in Texas woon, sy lewensmaat Connie du Toit en sy twee kinders, Amori (16) en Conrad (18) agter.
Geen begrafnisreëlings was teen druktyd beskikbaar nie.
Nooddienste op die toneel verlede Donder-dagaand.
Die paneelwa het 'n boom getref. LINKS: Clinton Bekker (43).
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'