GEORGE NUUS - André Swiegelaar (64), 'n voormalige hoof van Laerskool Blanco wat ook sy merk op die sportveld gemaak het, is onverwags oorlede na 'n hartaanval tuis.
Hy het sy lewe lank 'n gesonde lewe gelei en was versot op fiksheid en sport, wat sy dood soveel meer onverwags gemaak het.
Swiegelaar het in Oudtshoorn grootgeword en is in 1974 in die SWD Cravenweek-rugbyspan ingesluit.
Na sy skoolopleiding het hy hom as onderwyser aan die destydse onderwyskollege in Oudtshoorn bekwaam waartydens hy ook provinsiale rugby en provinsiale krieket gespeel het.
Hy is in 1997 as hoof van Laerskool Blanco aangestel en het hierdie pos vir 13 jaar beklee waartydens hy bekendheid verwerf het as 'n onderwysman met 'n besondere empatie vir jong kinders.
Na sy uittrede uit die onderwys het hy en sy skoonseun, Werner van Antwerpen, die Childactive Sportakademie in 2010 begin wat van krag tot krag gegaan het en nou deur Van Antwerpen bestuur gaan word. Voor die ontstaan van die akademie het hy ook gespesialiseerde krieketafrigting vir jong spelers gebied en verskeie spelers in hul beginjare in die sportsoort die regte tegnieke geleer.
Die troosdiens het in die NGK Blanco plaasgevind toe familie en vriende die laaste eer aan hom betoon het.
Behalwe sy eggenote, Lynette, laat hy ook drie getroude kinders en vier kleinkinders agter.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'