Video
GEORGE NUUSFLITS EN VIDEO - Die gemeenskap van Rosemoor het in groot getalle hul laaste eer aan wyle Daniel Maritz betoon, 'n eertydse raadslid en onderburgemeester van George.
Die begrafnisdiens het Sondag by die George Community Church plaasgevind, gelei deur apostel Gavin Biegnaar.
Maritz is op 6 Januarie vanjaar, vyf dae voor sy 49ste verjaarsdag, na 'n lang stryd aan maagkanker oorlede.
Drie gedenkdienste is verlede week in Blanco en Conville vir Maritz gehou, waaronder 'n gedenkdiens deur George-munisipaliteit, wat deur die leier van die DA in die Wes-Kaap, Bonginkosi Madikizela, bygewoon is.
Maritz was 'n vurige DA-lid en het vir twee termyne (2006 tot 2016) in verskeie poste op die raad gedien, waaronder onderburgemeester, speaker en burgemeesterskomiteelid.
Wes-Kaapse minister van finansies Ivan Meyer, DA-streekvoorsitter Jaco Londt, en DA provinsiale parlementslid Tertuis Simmers, het die kerkdiens verlede Sondag in Rosemoor bygewoon.
Ander bekendes sluit in twee voormalige burgemeesters van George, Charles Standers en Marius Swartz, sowel as huidige burgemeesters, Memory Booysen (Eden) en Melvin Naik (George) en Eleanor Bouw-Spies (Knysna).
Meyer het in sy huldeblyk gesê hy is deur die DA se federale uitvoerende gesag, Mmusi Maimane, gestuur om innige medelye en simpatie aan die Maritz-familie oor te dra.
Kyk 'n video hieronder.
Die George Community Church was stampvol tydens die begrafnisdiens verlede Sondag. Heelwat kerkgangers het buite die kerk met behulp van luidsprekers na die diens geluister.
Meyer het na Maritz verwys as 'n nasionale boom, die geelhoutboom - gelyknamig aan die plek van sy geboorte.
"Nasionaal gaan ons hom mis, want hy was 'n nasionale bate soos die geelhoutboom," het Meyer gesê.
Vriende en familie van Daniël Maritz neem 'n blaaskans voor die diens begin. Van links is Charlynne Lourens (niggie), Maria Arendse (tannie), Lettie September en Rowayda Borcherds.
Lees meer in Donderdag se George Herald, asook aanlyn.
ARTIKEL, VIDEO EN FOTO'S: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'