Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Toe Valentynsdag verlede week by Tuiniqua-versorgingsoord gevier is, was die dansbaan een van die gewildste plekke. Verskeie inwoners het die voete by die jaarlikse Valentynssokkie laat rol. Sommige van die bejaarde inwoners het dit selfs met looprame op die dansbaan gewaag en gewys dat ouderdom nie in die pad staan om nog die lewe te geniet nie. Van die inwoners het eers 7de laan en die nuus op televisie gekyk, maar na 19:00 het dinge begin gebeur.
Tokkie Nel en Freek Gerber het die musiek verskaf en toeka se treffers het goeie herinneringe teruggebring. Daar is behoorlik gedans en in een stadium het 'n inwoner gespot dat hy eers sy hartpille moet gaan haal.
Nel het gesê hulle doen dit graag vir die inwoners. "Hulle geniet dit so baie."
Emmeth Steyn, gr.12-leerling in Hoërskool Outeniqua het in 'n stadium vir inwoners 'n meer moderne danspassie geleer.
Een van die inwoners wat nie sommer 'n dans gemis het nie was, Willemien Botha (87). Wanneer die musiek begin speel het, was sy gewoonlik eerste op die dansbaan met haar loopraam.
Sy het in die destydse Rhodesië grootgeword en het al op 4-jarige ouderdom begin dans. Volgens haar was haar pa baie lief vir dans en sy en haar maatjie het destyds tussen die ouer mense gedans.
"Ek hou baie van dans," het sy opgewonde vertel. "As die musiek begin speel, bly ek nie weg van die dansbaan nie."
Sy kan al die verskillende danssoorte doen. "My ouderdom staan nie in my pad nie. In die algemeen is ek nog baie gesond. Dis omdat ek so woelig is."
Haar advies aan jongmense is om te dans. "Dis goeie oefening. Dis die dans wat my so jonk hou. Ek sal dans tot ek dood neerslaan."
Kyk 'n video hieronder:
Lina Aucamp (83) was ook een van die ywerige dansers. "Ek dans al van kleins af," het sy gesê.
"Ek het destyds op 'n misvloer begin dans en later op 'n plankvloer." Later in haar lewe het sy gaan danslesse neem.
"So 'n aand soos vanaand, bring wonderlike herinneringe terug," het sy gesê.
"Dis nie moeilik om op die ouderdom nog te dans nie. Dit hou mens ook baie gesond.
"Ek soek net 'n partner om mee te dans," het sy gespot terwyl sy na die dansbaan gekyk het.
Alani Voigt, sentrumhoof, het gesê die geleentheid is elke jaar baie gewild. "Dit is 'n hoogtepunt op die kalender. Daar is minder ooms as tannies, maar dit pla nie die tannies nie."
Daar is twee aspekte. "Dit bring ou herinneringe en wonderlike tye terug wat mense beleef het. Dit wys ook dat die dag as jy oud word, hoef die goeie tye nie op te hou nie. Dit gaan beslis weer aanstaande jaar aangebied word."
Emmeth Steyn, gr.12-leerling in Hoërskool Outeniqua het in 'n stadium vir inwoners en belangstellendes 'n meer modernde danspassie geleer.
Willemien Botha (87) het al op 4-jarige ouderdom begin dans. Deesdae is sy baie afhanlik van 'n loopraam, maar dit keer haar nie om op die dansvloer te kom nie. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'