HEROLD NUUS - ’n Bekende vrou in die landbougemeenskap van die Herold-omgewing het Saterdag haar eerste kortverhaalbundel in Oudtshoorn by die Cape Karoo Emporium bekendgestel.
Maretha van der Westhuysen se boek, Deur haar venster, is uitgegee deur Turksvy Publikasies. Bykans 40 gaste het die geleentheid bygewoon. 'n Hele aantal van hulle het vanaf George oorgery.
Hannes Visser, stigter van dié uitgewery en redakteur van die Oudtshoorn Courant het die gesprek gelei en gesê die boek is 'n bewys dat ouderdom geen rol speel as dit by skryfwerk kom nie.
Turksvy Publikasies is verlede jaar in die grendeltyd gevestig en Van der Westhuizen se manuskrip was een van die eerstes wat deur dié uitgewery vir publikasie aanvaar is. “Al ons manuskripte ondergaan streng keuring, gehaltebeheer en ’n noukeurige produksieproses voordat ’n skrywer uiteindelik ’n boek in sy of haar hand kan hou,” het Visser gesê.
Twee van die verhale in die bundel het al voorheen elders erkenning gekry: Een in 2017, toe dit as wenner in die afdeling vir ongepubliseerde skrywers in die jaarlikse kompetisie van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging aangewys is, en ’n ander wat in 2018 in die bundel kortverhale van die Woordfees van die Universiteit van Stellenbosch opgeneem is.
Volgens Visser belig die sowat veertig kortverhale in die bundel die veelvlakkigheid van die samelewing uit die perspektief van verskillende vroue met uiteenlopende persoonlikhede en ervarings – vroue wat onder andere ’n plaasaanval en gesinsmoord beleef, ander wat die siektes en dood van gesinslede moet hanteer, die belewenis van ’n enkelma, ’n beskuldigde in ’n hofsaak, ’n vrou wat leer om haarself en haar voorkoms te aanvaar, ’n misverstand tussen ’n egpaar wat tot ’n tragedie lei, en ’n waagmoedige vrou met ’n sensuele ervaring in ’n Turkse bad.
Volgens Visser onderskei goeie skrywers hulle dikwels van minder goeies deur die begin en einde van verhale. “Maretha se verhale boei jou van die begin af en die eindes verras jou telkens. Jy wonder die hele tyd wat gaan gebeur.”
Van der Westhuysen het gesê haar ouers het haar van kleins af aan boeke en lees blootgestel. “As ek aan iets dink wat tot ’n storie kan lei, skryf ek dit neer. Ek kan nie anders nie.”
Lede van die entoesiastiese gehoor het tydens vraetyd gesê wat hulle opval, is dat die verhaaltitels “verfrissend” is en nooit die inhoud verklap nie. Voorts is die invalshoeke treffend, en gebruik Van der Westhuysen interessante metafore en nuutskeppings.
Die skrywer sê sy werk reeds aan verhale vir 'n moontlike volgende bundel. “Of dit tot nog ’n boek sal lei, sal ek maar sien. Ek hou egter nooit op skryf nie. My lewe is vol en besig.”
Dan is daar nog ’n klompie kinderverhale waarmee sy ook in haar gedagtes speel en waaroor sy navorsing doen. Al wat sy bereid is om te verklap, is dat dit met die natuur en dierekarakters te doen het.
Vir navrae oor Deur haar venster, kontak Maretha van der Westhuysen by 083 632 3780.
'Ons bring jou die nuutste Herold, Tuinroete nuus'