GEORGE NUUS - 'n Oudleerder van Hoërskool George, dr. Warren Joubert (39), hoof wetenskaplike by die Suid-Afrikaanse Weerdiens is in die marginale yssone van Antarktika saam met 'n span navorsers wat besig is met 'n eksperiment wat bekendstaan as die Suidelike Oseaan Seisoenale Eksperiment (Scale).
Dit is 'n eksperiment oor oseaan-atmosfeer-ys-interaksies wat die Universiteite van Kaapstad, Stellenbosch en Pretoria, asook die WNNR (Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad), SA Weerdiens en internasionale vennote gesamentlik doen, gelei deur die Suid-Afrikaanse navorsers. Joubert is een van 'n span van 95 navorsers.
Volgens Joubert se skoonma, Hermien Petersen, gaan die eksperimente hoofsaaklik op die see-ys rondom Antarktika uitgevoer word waar die navorsers vier dae besig sal wees.
Die see-ys-toestande verander seisoenaal. Die navorsers probeer die dinamika van die vorming van die ys verstaan en hoe dit in numeriese modelle ingevoer kan word om te help met weervoorspelling en verifikasie van satellietwaarnemings.
"Die vaart duur 21 dae van 18 Julie tot 8 Augustus. Vier dae word op die see-ys spandeer," vertel Petersen.
Joubert het per e-pos deur sy skoonma laat weet, "Dis 'n groot voorreg om deel van so 'n omvangryke projek te wees. Dis opwindend en uiters interessant om uit te vind hoe ons wêreld en die natuur werk."
Volgens Joubert gaan keuring vir so 'n ekspedisie gewoonlik gepaard met hoeveel belangstelling die persoon toon en wie die mees geskikte kandidaat is om die spesifieke werk te doen. "Baie studente wat besig is met hul meesters of PhD-studies is ook deel van die program."
Hy het voorgraads aan die US studeer en sy honneurs BSc (Chemie) daar verwerf, waarna hy 'n MSc (Mariene Biogeochemie) en PhD in fisiese oseanografie aan die Universiteit van Kaapstad verwerf het. Deel van sy PhD-studies was 'n uitruilprogram met Princeton Universiteit, waar hy een jaar spandeer het.
Joubert was vir jare deel van die WNNR waar hy verantwoordelik was vir die opstel van 'n laboratorium vir koolstofmetings in die oseaan. Tans is hy die hoofwetenskaplike by die SA Weerdiens se Wêreld-atmosfeerwaarnemingstasie by Kaappunt.
Joubert se ouers, Joey, 'n afgetrede skoolhoof en Veronica, afgetrede onderwyseres woon in George.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'