Update
GEORGE NUUS - Die derde likwidasierekening van die gewraakte Niflas Silhouette Platform is by die meester van die hooggeregshof in Kaapstad geliasseer en beleggers sal betaling ontvang so gou as wat die meester dit goedkeur - hopelik in Desember of vroeg in Januarie..
Volgens Danie Acker van Rauch Gertenbach Prokureurs is die eerste en tweede likwidasierekenings se dividende onderskeidelik op 18 November 2016 en 31 Mei 2017 aan die krediteure betaal.
Acker sê dividende wat in hierdie rekeninge aan 331 beleggers toegeken is, beloop reeds bykans R22 miljoen.
Niflas, 'n beleggingsgroep in George wat meer as drie dekades gelede deur die hoof- uitvoerende beampte, Pieter Strydom, gestig is, het in September 2014 probleme begin ondervind toe mikrolener, Bridge Finance, in sakeredding geplaas is.
Byna 400 van Niflas se kliënte het ongeveer R150 miljoen in die Niflas Silhouette Platform belê en Strydom en sy mede-direkteure het meer as R60 miljoen van dié geld in Bridge belê. Sommige beleggers het in die vet jare soveel as 13% rente verdien en baie van hulle vriende oortuig om ook in die skema te belê. Met die insinking van Bridge en Niflas het talle beleggers al hulle geld verloor en George Herald weet van een bejaarde man wat as 'n direkte gevolg daarvan selfdood gepleeg het.
Swak beleggings
Benewens die hoë-risiko belegging van R60 miljoen in Bridge, het Strydom en kie die meeste van die oorblywende R90 miljoen in lae opbrengste bates soos eiendom in Swellendam, woonstelle in George en sy suster se crèche in Humansdorp belê. Meeste van die eiendomme is reeds op veiling verkoop.
In 'n verdoemende uitspraak deur regter André Blignault wat in 2015 die Niflas Silhouette-likwidasie in die Wes-Kaapse hooggeregshof toegestaan het, was die platform 'n verneukspul. "Money was appropriated from innocent pensioners and wasted on insolvent or non-productive borrowers with non-existing means. Such conduct could probably be proved to amount to fraud and theft...", het Regter Blignault gesê.
Bridge likwidasie geëis
Bridge is reeds vir twee jaar nie meer onder sakeredding nie en is steeds aktief as finansiële instansie, maar as dit van Bridge-belegger Maurizio Decinti, afhang, sal dié prentjie eersdaags verander.
'n Aansoek wat Decinti, 'n geoktrooieerde rekenmeester van Stellenbosch, gebring het vir die likwidasie van Bridge Finance, is in Mei vanjaar in die hooggeregshof in Noord-Gauteng aangehoor en word die uitspraak steeds afgewag.
"Die Niflas-krediteure het R62 miljoen in Bridge belê en aangesien die beleggers se "lenings" of "beleggings" voor Niflas se likwidasie omskep is in aandele in Bridge in terme van 'n kompromis, sal potensiële voordeel vir Niflas-krediteure afhang van die uitspraak," sê Acker.
Aldums
Decinti self het destyds miljoene in Bridge belê. Hy was hewig gekant teen die kompromieplan om Bridge se voortbestaan te verseker en het Dinsdag aan George Herald gesê die plan beskerm die belange van die voormalige hoofaandeelhouers van Bridge, die Aldum-familie, tot nadeel van die krediteure. Volgens hom het die Aldums honderde miljoene wat die familie aan Bridge skuld "betaal" deur bloot hulle aandeelhouding in Bridge te verlaag. Volgens Dicenti is dit 'n klug. "Hulle het hulle aandeelhouding in 'n maatskappy wat niks werd is nie verminder. Die sogenaamde aandele wat krediteure gekry het in ruil vir hulle kontantbeleggings beteken niks. Die krediteure was naief."
Ten tye van die ooreenkoms in 2015 het Decinti aan moneyweb.co.za gesê: "It is our honest belief, following our own interim forensic investigation, that the Aldums are linked to a complicated matrix of corporations which they use as their own vehicle to fund their lifestyles.”
Nieteenstaande is die kompromis deur die krediteure aanvaar en Decenti het hom tot die hof gewend om Bridge te likwideer. Niflas is die grootste enkel investeerder in Bridge.
Ondersoek
Intussen gaan die Niflas-likwidateurs voort om uitstaande skuld van debiteure in te vorder en 'n forensiese ondersoek na die sake van die platform af te handel. Verdere ondervragings in terme van die maatskappyewet om te bepaal hoe die platform se fondse aangewend is, word in Februarie voortgesit.
Volgens Acker kan "verskeie aksies" volg sodra die ondervragings afgehandel is.
Maurizio Decinti van Decinti Consulting wag vir die uitslag van sy likwidasie-aansoek teen Bridge Finance. Foto: decinticonsulting.com
Lees verwante artikels:
- Auctions secure over R17 million for Niflas creditors
- Niflas liquidation going ahead
- Niflas Silhoutte denied leave to appeal
- Niflas Silhouette in liquidation
- Niflas likwidasie-aansoek uitgestel
- Niflas liquidation battle heats up
- Liquidation application in court next week
- Niflas Silhouette to fight liquidation
- Niflas Silhouette to be liquidated
ARTIKEL: ILSE SCHOONRAAD
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'