Die man (45) het sy eks, Rosemarie de Jager (44) wat onlangs na Groot-Brakrivier verhuis het, tydens 'n rusie in die regter bobeen geskiet en daarna die vuurwapen onder sy ken gedruk en die sneller getrek.
Hy het ernstige beserings aan sy gesig opgedoen en is steeds in 'n ernstige maar stabiele toestand in die hospitaal. Die George Herald verneem dat Rosemarie suksesvol geopereer is en dat sy goed aansterk.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die voorval omstreeks 12:35 plaasgevind.
"Ons voorlopige ondersoek dui daarop dat die verdagte en sy eksvrou vroeër die dag in George ontmoet het. Na die ontmoeting op pad terug na haar woning het daar 'n stryery tussen die twee ontstaan. Daar word ook beweer dat die verdagte roekeloos bestuur het en uiteindelik langs die N2-snelweg tussen Heroldsbaai en Glentana tot stilstand gekom het."
Pojie sê twee mans het gestop om hul hulp aan te bied, maar het gevlug toe hulle sien die verdagte het 'n vuurwapen.
"Hulle het twee provinsiale verkeersbeamptes wat ongeveer 3 km verder van die toneel af diens gedoen het, van die voorval in kennis gestel. Die verkeersbeamptes het ondersoek gaan instel en terwyl hulle die voertuig se registrasie nagegaan het, het die verdagte sy vrou, van wie hy onlangs geskei is, geskiet."
Die man het daarna van die toneel weggejaag net om tien minute later weer terug te keer. Die beamptes, wat hulp ontbied het en die vrou bygestaan het, moes glo uit die pad spring toe die man beheer oor sy wit Ford-bakkie verloor en teen die rand van die pad tot stilstand gekom het, reg langs die swaar gewonde vrou.
"Hy het toe weer die vuurwapen uitgehaal, onder sy ken geplaas en die sneller getrek," het Pojie gesê.
Albei is deur ER24 na die hospitaal geneem. Die verdagte se naam is bekend aan die George Herald, maar word weerhou tot hy amptelik aangekla word.
Klik hier vir vorige nuusflitse:
ARTIKEL: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'