Dié klein poskantoor het vir die tweede agtereenvolgende jaar die hoogste puntetelling verwerf tydens die jaarlikse poskantooroudit vir operasionele standaarde.
Prins Albert en Uniondale het ook toekennings gekry vir hul prestasie.
Die oudit ondersoek alle raakpunte waar die standaard van kliëntediens ter sprake is, soos netheid, of pos volgens standaarde gesorteer en uitgestuur word, en wagtye in toue.
Die George-Oos Poskantoor was die beste met ‘n puntetelling van 99,38 persent.
Bestuurder Chris Oosthuizen het aan die George Herald gesê hy en sy personeel is verskriklik opgewonde oor die toekenning. Hulle resep vir sukses: "Ons probeer om alles die eerste keer reg te doen en ons werk asof ons elke dag geoudit word. Spanwerk is baie belangrik."
Die poskantoor, wat net oor net drie toonbanke beskik, bedien gemiddeld 350 mense per dag. Verlede Donderdag het hulle 494 mense bedien.
Volgens Ndala Mnisi, hoof van die poskantoor se kleinhandelafdeling, was Prins Albert tweede in die Wes-Kaap met 98,44 persent en Uniondale het ‘n toekenning gekry vir verbetering op verlede jaar se persentasie. "Uniondale se ouditpersentasie is met 14,69 persent verbeter, van 81,76 tot 96,45 persent. Met dié puntetellings is die drie poskantore van ons topkantore in die land,” sê Mnisi.
Mnisi sê hy is besonder trots op Prins Albert wat sy ouditresultate verbeter het en vir die tweede jaar ook vir kliëntediens beloon is.
Die drie takbestuurders stem saam dat hul suksesresep spanwerk, toewyding en veelsydigheid is. “Ons werk hard daaraan om diensstandaarde in poskantore te verbeter. Afgeleë poskantore soos dié in die Suid-Kaap is belangrik vir die aflewer van pakkies namate meer kliënte aankope oor die internet doen. Die getal pakkies by die drie takke neem geleidelik toe," sê Mnisi.
* The George East Post Office has been named the top post office in the Western Cape in the yearly post office audit for operational standards. The audit investigates all aspects where client service is applicable, including neatness, if mail is sorted and sent off according to standards and waiting times in queues.
George Seima (links) en Richard Bruins (naaslinks) van die kleinhandelafdeling in Pretoria met die personeel van George-Oos Poskantoor, van links: Maria Anthony, Johanna Janse van Rensburg, Chris Oosthuizen (takbestuurder) en Nolubabalo Gulani.
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'