GEORGE NUUS - Op Sondag 8 September gaan die wiele behoorlik rol wanneer die legandariese Jakkie van der Colf se fietswiele die bykans 2 000km merk bereik wanneer hy George binnery.
Hierdie 77-jarige het besluit dat die wese en doel van die Voortrekkers, die grootste Afrikaanse jeugbeweging, dit werd is om ‘n epiese tog vanaf die Voortrekkermonument in Pretoria tot by die Taalmonument in die Paarl te ry.
Oral word nuwe kommando’s gestig en mense weereens bewus gemaak van die waardesisteme van die Voortrekkers.
Oom Jakkie kom Sondagmiddag om ongeveer drieuur in George aan. Veteraanmotors gaan hom die dorp in begelei en die Voortrekkers gaan op fietse van die brug by Hoërskool Outeniqua af tot by die Moederkerk saam ry waar oom Jakkie deur ‘n erewag ingewag sal word.
Na ‘n kort verwelkoming en gebed sal die omstanders genooi word na die Langgebou waar verversings te koop aangebied sal word.
Die Voortrekkers se bemarkingsmaat, Kuifie sal ook op die terrein wees vir foto’s en om almal aan te moedig om lekker saam te sing en kuier.
Vir navrae kontak Gerda Stols by 083 7728252 of Henriëtte van Niekerk 082 822 6405.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'