GEORGE NUUS - Die polisie en buurtwagte in die Pacaltsdorp-gebied het oor die naweek van 1 en 2 Januarie 'n rits onwettige kragkoppelinge in twee informele nedersettings, Moeggeploeg en Moeggehuur, verwyder.
Hierdie koppelinge is 'n gevaar vir die gemeenskappe en veral vir jong kinders wat in die areas speel.
'n Ingeligte persoon, wat graag anoniem wil bly, beweer dat George-munisipaliteit nie haastig is om sulke onwettige koppelinge te verwyder nie en dat hulle glo wag vir 'n kontrakteur om die werk te doen.
Waarnemende direkteur van elektrotegniese dienste, Kobus Wilken, het egter die gevaar van sulke koppelinge bevestig en gesê dat die munisipaliteit dit sterk teenstaan. "Die probleem kom regoor die munisipale gebied voor en die munisipaliteit het ongelukkig nie personeel om al die gebiede te patrolleer nie.
Munisipale werkers wat dit oplet gedurende hulle rondtes help om dit aan te meld en die gemeenskap laat ons ook weet, wat baie waardeer word," het Wilken gesê.
"In die meeste gebiede waar onwettige koppelinge plaasvind, is die gemeenskap wat krag onwettig gebruik gereeld baie aggresief teenoor die elektrisiëns wat die drade moet verwyder en hulle word onder andere met klippe bestook, soos wat ook onlangs die geval was in informele gebiede soos Moeggeploeg en Moeggehuur.
Wanneer werkers se lewens potensieel in gevaar is, word hulle tydelik onttrek totdat dit veilig is om terug te gaan saam met die munisipaliteit se wetstoepassingseenheid of, in sekere gevalle, die polisie se Publieke Orde Polisiediens (Pops)."
Hierdie drade, waaronder 'n koord van 'n ketel, is gebruik om onwettige kragkoppelinge in die informele nedersetting Moeggeploeg te maak.
Spesialisveld
Wilken het gesê dat die ontkoppeling van onwettige lyne 'n spesialisveld is wat spesifieke opleiding verg. "In tye wanneer addisionele personeel benodig word, stel die munisipaliteit gekwalifiseerde diensverskaffers met die nodige bekwaamhede aan om te help om die lyne te verwyder.
Die diensverskaffersproses kan die aanstellings soms vertraag sodat dit nie so vinnig afgehandel kan word soos ons graag sou wou nie, maar dit word so gou moontlik hanteer.
"Indien individuele op heterdaad betrap word of indien daar bewys bestaan dat hulle elektrisiteit onwettig gebruik, maak die munisipaliteit wel 'n saak van diefstal teen sulke oortreders by die polisie oop."
Onwettige kragskakelings kan aangemeld word by 044 803 9222 of 044 801 9202, na-ure by 044 801 6300, of by die naaste polisiestasie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'