TUINROETE | KAROO NUUS - Kinders se kommunikasievaardighede ontwikkel slegs wanneer hulle gemotiveerd is om deur iemand anders te laat verstaan wat hulle beleef, dink, voel of nodig het.
Dit is ’n feit dat kommunikasievaardighede makliker tuis, as in ’n skoolopset ontwikkel.
Kinders is vanselfsprekend meer gemaklik wanneer hulle tuis kan oefen, om hulself in woorde uit te druk.
Ouers het meer geleenthede as onderwyseresse om een-tot-een-gesprekke met kinders te voer en kinders vind dit makliker om tuis aktief aan gesprekke deel te neem omdat daar tuis direk met hulle gepraat word en hulle nie nodig het om hul beurt af te wag om iets te sê of vra nie.
Ouers kan die ontwikkeling van kinders se mondelinge vaardighede daagliks met behulp van twee p’s ondersteun:
- Die eerste stap is om plek in jou dag te maak vir geselsies met jou kinders.
- Dit help ook om ’n plan met teikenwoorde teen die muur op te plak.
Wenk 1: Die maklikste manier om plek vir geselsies te maak, is om kinders tuis by alledaagse aktiwiteite te betrek.
Gesprekke wat in, en om die huis gevoer word terwyl jy en jou kind saam dagtakies verrig, is goud werd om hul mondelinge vaardighede te help ontwikkel.
Dit help as ouers hul kinders vra om hulle met allerhande takies in die huis te help, selfs wanneer dit nie regtig nodig is nie, omdat kinders ingesluit voel wanneer hulle betrek word en makliker gesels oor tasbare ervarings waarmee hul hande en verstand op die oomblik besig is.
Kinders leer nuwe woorde vinniger in ’n omgewing wat vir hulle prakties en bekend is.
Nog ’n rede hoekom kinders se taalvaardighede so goed ontwikkel wanneer ’n mens met hulle gesels oor take of speletjies waarmee hulle besig is, is omdat hulle gewoonlik met werkies help en speel in ’n omgewing wat hulle goed ken.
Kinders leer die taal wat hulle die meeste hoor die heel beste aan.
Kinders sal vanselfsprekend leer om te praat met ’n aksent wat ooreenstem met die aksent wat hulle meestal hoor.
Netso kan ’n mens verwag dat die kwaliteit van die woordeskat en sinskonstruksies wat ’n kind hoor, sal bepaal wat die kwaliteit sal wees van die woordeskat en sinskonstruksies wat daardie kind later self sal gebruik.
Dit is hoekom dit belangrik is vir ouers om as goeie taalmodelle op te tree.
Wenk 2: Plak ’n plan met teikenwoorde teen die muur op.
Ouers kan self ’n lys teikenwoorde saamstel wat hulle dikwels in alledaagse gesprekke met hul kinders kan herhaal om die kinders mettertyd so goed aan die woorde bekend te stel dat hulle dit self sal begin gebruik.
Die lys kan weekliks bygewerk en aangepas word.
Dit is belangik om nie net selfstandige naamwoorde nie, maar ook werkwoorde, beskrywende woorde en allerlei uitdrukkings by so ‘n lys in te sluit.
Vir nog interessante artikels en ‘n keur aflaaibare en gratis leerinhoud, gaan kykgerus by Afrikaans.com se Leerhulpblad.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'