GEORGE NUUS - "Hulle wil ons probeer intimideer om die saak te laat vaar. Dit klink reeds of die onderwyser niks gaan oorkom nie," so vertel Lelanie Samson van Conville oor die onderwyser wat glo haar broer te lyf gegaan het.
Sy sê haar jonger boetie is deur 'n onderwyser van Conville Primêr met 'n pyp gedurende skooltyd geslaan, omdat hy glo nie 'n boek in sy skoolsak kon kry nie.
Samson sê hul ma is vroeg in Desember 2017 oorlede en sy en nog 'n broer Lluwellyn, sien om na hul jonger boetie.
"My pa leef nog, maar hy werk weg van die huis en val die daaglikse verantwoordelikhede op ons."
Sy vertel die onderwyser is blykbaar ook skuldig daaraan dat hy ander leerders te lyf gegaan het.
"Daar is reeds drie leerders waarvan ek weet wat ook deur dié onderwyser geslaan is. Een kind het glo vreeslik gebloei nadat hy deur die gesig geslaan is."
Samson was by die werk toe haar boetie tuis opgedaag het met trane in sy oë en dik geswelde arms.
Sy vertel Lluwellyn het hom onmiddellik gevat om 'n saak van aanranding te maak.
Sy meen sulke wangedrag van onderwysers moet stopgesit word.
"My broer is nie 'n kind wat baie kla nie, en is maar spelerig soos baie kinders van sy ouderdom. Ons het ook nog nie klagtes van ander onderwysers omtrent hom gekry nie."
Samson sê die klagtes van die onderwyser wat lyfstraf toepas, kom al 'n geruime tyd aan, en dit blyk hy gaan dalk daarmee wegkom.
Dit is ook nie die eerste keer dat hy onder sulke klagtes deurloop nie.
Die eerste saak het in die hof gaan draai, maar is uitgegooi weens onvoldoende bewyse.
Sy vertel sy is op 11 Februarie deur 'n speurder besoek wat aanhoudend gevra het of sy seker is sy wil voortgaan met die saak.
Samson is toe saam met hom polisiestasie toe waar die betrokke onderwyser ook was.
Die onderwyser het die dag glo vir Samson gesê hy is nie bang dat hy sy werk gaan verloor nie, maar wel dat hy 'n kriminele rekord gaan hê.
Sy sê die onderwyser wou voorgee daar is 'n komplot teen hom, omdat hy klagtes van diefstal by die skool aangemeld het.
Verder kla Samson dat die onderwyser haar by die huis en by die werk lastig val. Sy sê hy bel aanhoudend en sy voel al bedreig.
Millicent Merton, 'n woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van onderwys, sê hulle neem kennis van die saak.
Merton sê hulle beskou lyfstraf in 'n ernstige lig, en het onmiddellik begin met 'n ondersoek.
Kol. AB Kriga, die stasiebevelvoerder van die Conville-polisie, sê hulle kan die saak bevestig.
Hy sê die ondersoek gaan voort en sodra die ondersoek voltooi is, sal die saak aan die senior staatsaanklaer voorgelê word vir 'n beslissing.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'