GEORGE NUUS - Motoris 8 keer oor wettige perk
Daar is verlede naweek 22 motoriste in die Wes-Kaap vir die bestuur van 'n voertuig onder die invloed van alkohol gearresteer. Tien van hulle was in die George-area.
Die grootste lesing was ook in George waar 'n 39-jarige man agt keer oor die wettige perk was.
Hy is in hegtenis geneem by 'n padblokkade wat Saterdag 12 Augustus naby die Conville-polisiestasie in die Nelson Mandela-boulevard gehou is. Hy het Maandag in die George-landdroshof verskyn en is op 'n waarskuwing vrygelaat. Hy verskyn weer op 25 Augustus.
Volgens die senior provinsiale verkeersbeampte, Quinton Williams, wil hulle dronk bestuurders hokslaan. "Alhoewel ons oor die naweke meer op padblokkades konsentreer, hou ons hulle ook gedurende die week. Dag en nag. Hoe meer dronkbestuurders ons van die strate af kry, hoe beter," het hy gesê.
Motor ploeg deur muur
Dit gons onder die inwoners van Bos en Dal oor 'n motoris wat Saterdagaand om 20:20 blykbaar 'n 'besoek' aan die ou krokodilplaas in Yorkstraat wou aflê en beheer oor haar motor verloor het.
Volgens die kommunikasiebeampte van George-polisie, konst. Rachel Hendriks, het 'n 30-jarige vrou van Pacaltsdorp uit die rigting van die lughawe gekom toe 'n hond voor haar motor ingehardloop het.
Sy het uitgeswaai, beheer oor haar voertuig verloor en deur die muur by die verkeersirkel wat Hope- en Yorkstraat by die krokodilplaas verbind, gebars.
Die vrou was blykbaar in skok en het die toneel verlaat voor die polisie se aankoms. Sy het die ongeluk die volgende dag aangemeld.
Alhoewel sy geen ernstige beserings opgedoen het nie, is haar motor, 'n Mercedes Benz, erg beskadig,
Slegs 'n ongeluksverslag is geopen.
Drie motors was Saterdag in twee afsonderlike ongelukke in Beachweg betrokke.
Navraag oor albei gevalle is na die polisie gestuur, maar teen druktyd was daar nog geen terugvoer nie.
ARTIKEL EN FOTO: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'