GEORGE NUUS - Die familie van 'n geliefde wat onlangs gesterf het, sal nie sy laaste wens kan uitvoer nie. Jacob Johannes Lotriet, (58) 'n kulturele en tradisionele leier en hoofman in die Xam Ke!Royal House of Traditional and Cultural Council is op 23 Augustus aan natuurlike oorsake oorlede.
Een van sy laaste wense was dat hy by die Erfenisgebied in Pacaltsdorp begrawe moet word. Wyle kapt. Dikkop, 'n Khoikhoi-leier is reeds daar begrawe en onlangs is 'n ander Khoisan-leier, wyle stamhoof Japie Theron Baartman, ook daar begrawe.
Lotriet se begrafnis sou die afgelope naweek plaasgevind het, maar moes uitgestel word omdat daar onduidelikheid is of hy wel wettig daar begrawe mag word.
Kort na sy dood het sy familie al die wettige kanale gevolg, maar is blykbaar van bakboord na stuurboord gestuur. Die gebeure het die familie erg ontstel en selfs Virgill Gericke, 'n stadsraadslid het betrokke geraak om die familie te help. Vrae word nou gevra oor hoekom Lotriet nie ook daar begrawe kan word nie.
George-munisipaliteit
Die George-munisipaliteit het by navraag aan die George Herald bevestig dat Lotriet se familie toestemming geweier is.
Luidens die munisipale woordvoerder, Chantel Edwards-Klose, is die familie deur die kantoor van die burgemeester, Melvin Naik, en die munisipale bestuurder, Trevor Botha, dienooreenkomstig ingelig.
Wyle Lotriet se seun, Jerobeam. Foto: Eugene Gunning
Daar is sekere vereistes wat nagekom moet word voordat iemand op 'n sekere plek begrawe kan word.
'n Ondersoek sal nou gedoen word oor hoe "toestemming" verleen is vir 'n vorige begrafnis op die grond ter sprake.
In terme van die voorskrifte was die vorige teraardebestelling daar onwettig.
Gericke het by navraag bevestig dat hy die familie by-staan. Met verwy-sing na die vorige begrafnis het hy gesê dit gaan nie daaroor om iemand te verneder of in 'n verleentheid te stel nie. "Ons moet beplan vir die toekoms."
Hy het oorspronklik vir Botha gevra dat 'n ondersoek gedoen word en is bewus van die voorgenome ondersoek. Volgens Gericke wil dit voorkom of 'n amptenaar op sy eie houtjie buite sy mandaat opgetree het. "Hier is 'n presedent geskep en verwarring het ontstaan."
Verwagtinge vir toekomstige begrafnisse is geskep. Gericke het bygevoeg dat hy die ter sake wet, wat voorsiening maak vir 'n Erfenisterrein, respekteer. Hy wil weet hoekom mense se kulturele en tradisionele regte nie beskerm word nie.
Hy het die munisipaliteit gevra om grond beskikbaar te stel vir begrafnisse ten einde voorsiening te maak vir die geloof, tradisies en gebruike van inheemse volke. Volgens Gericke is die gemeenskap baie ongelukkig. Hy is van voorneme om die aangeleentheid onder die aandag van die Wes-Kaapse Erfenisraad en die Menseregtekommissie te bring.
Virgill Gericke, lid van die George-stadsraad. Foto: Michelle Pienaar
Jerobeam Lotriet
Wyle Lotriet se seun, Jerobeam, het in openhartige onderhoud gesê die familie is erg ongelukkig oor die gebeure. Hulle is baie bekommerd oor sy ma, Margaret. Hy het benadruk dit gaan nie oor iemand wat reeds daar begrawe is nie.
"Ek soek net 'n oplossing. Die aangeleentheid is 'n vernedering. My pa verdien dit nie. My pa het Pacaltsdorp getrou gedien. Ons soek net 'n oplossing. As hy dan nie daar begrawe kan word nie omdat dit 'n Erfenisterrein is, moet 'n ander plek opsygesit word vir tradisionele leiers."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'