GEORGE NUUS - Pacaltsdorp-polisie ondersoek 'n saak van roekelose en/of nalatige bestuur ná 'n Toyota Hilux-bakkie Saterdagaand, 23 Julie, 'n munisipale kragboks op die hoek van Beach- en Missionweg getref en langs die pad beland het.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het die voorval omstreeks 22:00 plaasgevind. Met die polisie se aankoms op die toneel is die bakkie in die bosse langs die pad gevind.
Twee insittendes het beserings opgedoen en is per ambulans na die hospitaal geneem.
Tot dusver is niemand nog in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort.
Volgens 'n betroubare bron het die bestuurder 'n rooi verkeerslig verontagsaam en die kragboks getref. Die bestuurder van die voertuig en 'n derde passasier het na bewering te voet van die toneel gevlug.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'