GEORGE NUUS - Dit is nie aldag dat 'n mens 'n skrywer sy kuns kan afvra nie, maar in die Tuinroete woon 'n paar skrywers by wie ons soms kan gaan kers opsteek. So 'n geleentheid was Saterdag 16 November, toe Chris Karsten as deel van die George-biblioteek se jaarlikse "Make Your Mark"-maand oor sy werk gesels het. Die joernalis Susan Purén het met hom gesels.
Van die eerste boeke wat Karsten geskryf het, het oor ware misdadigers gehandel, wat hom 'n goeie grondslag vir sy misdaadromans gegee het. Sy skurke is dikwels gebaseer op ware moordenaars.
Navorsing vir die agtergrond wat die stories lyf gee - soos karakters se voorliefde vir blou skoenlappers en gedetailleerde beskrywings van kos maak - doen hy namate 'n storie ontwikkel. Hy waak daarteen dat hierdie aanvullende detail nie die eintlike verhaal oorheers nie. Hy lees baie, sowel fiksie as nie-fiksie, en is gewoonlik besig met 'n paar boeke op 'n slag.
Hy laat sy stories afspeel in areas waar hy gewoon het en gevolglik goed ken. Vir Karsten begin die skryfproses nie by die plot nie, maar by die hoofkarakters, wat hy oor 'n tydperk ontwikkel. Hy gee hulle 'n verlede, want 'n mens se verlede maak jou wat jy is. Hy probeer ook sy skurke "lyf" gee en as menslike karakters uitbeeld, wat hulle net soveel trefkrag gee as die hoofkarakters. In teenstelling hiermee is daar minder belangrike karakters wat "plat" bly.
Chris Karsten gesels by die George-biblioteek oor sy skryfproses. Foto: Amanda du Plessis
Dissipline
Hy sê skryf verg dissipline. Soggens is sy vaste skryftyd. Eers redigeer hy vlugtig wat hy die vorige dag geskryf het, maar sy hoofdoel is om eers die konsepstorie klaar te maak.
Karsten sê sy karakters word vir hom so eg dat hy gewoonlik soos hulle begin dink en wanneer dit gebeur, verkies hy om nie onderbrekings in die skryfproses te hê nie. Hulle manier van praat moet byvoorbeeld konsekwent bly; daarom lees hy dikwels die dialoog hardop om te hoor of dit eg klink.
Hy maak ook notas van die karakters se eienskappe en agtergrond om hom te help om konsekwent te bly. As die konsep klaar is, laat hy dit vir 'n maand of twee lê voor hy dit deeglik redigeer.
Dit neem hom ongeveer 10 maande om 'n manuskrip klaar te maak, waarna die proeflees, volledige redigering en publikasie in samewerking met die uitgewer plaasvind.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'