GEORGE NUUS - Die gewilde Outeniqua-rolstoelwedren (OCC) in George, wat op 5 Maart gehou sou word, gaan nou eers op 15 Oktober plaasvind.
Dit is verlede Donderdag, 20 Januarie, tydens die algemene jaarvergadering van die Disabled Road Race Foundation (DRRF) by Carpe Diem skool aangekondig.
Die OCC vind onder die vaandel van die Disabled Road Race Foundation plaas.
Die plan was om dit in September of Oktober verlede jaar te hou, maar Covid-19 het die plan gekelder. Dit is toe tot Maart vanjaar uitgestel. Die OCC is laas in Februarie 2020 gehou, kort voor die begin van die Covid-19-pandemie.
Alewijn Dippenaar, geleentheids-direkteur, het tydens sy voorlegging gesê die besluit om uit te stel kom na deeglike oorweging en is hoofsaaklik as gevolg van die beperkinge op getalle vir buiteluggeleenthede.
Hy het ook 'n oorsig gegee van die finansiële uitdagings waarmee die organiseerders te doen kry om dit as 'n internasionale geleentheid aan te bied. Om dit te kan doen, word sowat R1,5 miljoen benodig.
In die stadium subsidieer baie van die deelnemers hulself. Hulle moet self opdok vir byvoorbeeld petrol en akkommodasie.
Volgens Dippenaar het die organiseerders regtig meer geld nodig om die atlete te steun. Die feit dat dit uitgestel word, gee die organiseerders egter meer tyd om nog borge te vind.
Dippenaar het Maandag gesê die atlete se gesondheid is prioriteit. "Ons wil niemand aan risiko's blootstel nie."
Een van die uitdagings van die OCC is dat daar 'n pretafdeling is en vrywilligers stoot die deelnemers in rolstoele. As almal bymekaargetel word, kan dit meer as 2 000 mense beloop.
Reëlings vir die geleentheid in Oktober het al begin en daar is reeds inskrywings ontvang. Die eerste deelnemer wat ingeskryf het, was Pieter du Preez wat verlede jaar 'n goue medalje by die Paralimpiese Spele in Tokio, Japan gewen het.
Die plan is om in Oktober wedrenne in verskeie afstande aan te bied naamlik die 5 km-pretafdeling, die 10 km, 21,1 km en 42,2 km. Daar word ook beplan om ander sport aan te bied vir deelnemers in rolstoele soos tafeltennis, vlugbal, rugby en rolbal.
In die stadium is een van die grootste behoeftes vir die finansiering van ander rolstoele.
Mense kan op verskillende wyses betrokke raak en byvoorbeeld geld en produkte skenk. Die deelnemers benodig etes. Belangstellendes kan ook as vrywilligers betrokke raak.
Na verwagting sal 800 atlete aan die geleentheid in Oktober deelneem.
Dippenaar is vol moed dat dit sal plaasvind en hopelik sal daar in daardie stadium geen beperkings wees op deelnemergetalle nie.
Alewijn Dippenaar, geleentheidsdirekteur van die OCC.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'