GEORGE NUUS - Atlete wat gaan deelneem aan die Outeniqua-rolstoelwedren (OCC) in September vanjaar, het dit verwelkom dat die geleentheid wel gaan plaasvind.
Shaun Butler van Knysna en André Koen van Riversdal, twee gestremde atlete, was onder die aanwesiges wat Maandagaand die amptelike bekendstelling van vanjaar se geleentheid bygewoon het.
Tydens die geleentheid het hulle hul steun vir vanjaar se wedren op 14 September gegee.
Die geleentheid is in die verlede gewoonlik in Februarie aangebied, maar vroeg vanjaar was dit in die weegskaal. Daar was ondermeer probleme om behoorlike borgskappe te verseker. Die George Herald het daaroor berig en nadat belanghebbendes soos dr. Dennis Farrell, voorsitter van die George-sakekamer, Mike Barkley van Barkley Oates Inc en Ernst van Dyk, internasionaal bekende atleet, sekere inisiatiewe geneem het, was die bal aan die rol om dit weer vanjaar aan te bied.
Tydens Maandagaand se geleentheid het Butler gesê die OCC is 'n heuglike geleentheid. Dit beteken dat atlete soos hy teen hul eweknieë kan deelneem. Atlete is dankbaar dat die geleentheid weer op koers is.
Koen het gesê hy het baie jare geweet van die OCC, maar het in Natal gewoon en kon dit nooit bywoon nie.
In Februarie 2016 het hy wel die eerste keer deelgeneem. Toe hy vroeg vanjaar hoor dat die OCC nie meer gaan plaasvind nie was dit 'n groot teleurstelling. "Ons kan nie internasionaal deelneem nie omdat ons nie die nodige fondse het nie."
Gerrit Pretorius, speaker van die George-stadsraad, wou weet of die organiseerders dit nie eerder 'n feesgeleentheid wil noem nie. Pretorius het Melvin Naik, die burgemeester, verteenwoordig wat uitstedig was.
Pretorius het gesê die geleentheid sou nie kon plaasvind sonder die hulp van die sakekamer en ander belanghebbendes nie. Dit is 'n vlagskip en internasionale geleentheid en moet uitgebrei word. Die George-munisipaliteit is 'n "omgee munisipaliteit" en is bevoorreg om by die OCC betrokke te kan wees.
Farrell het gesê toe hy vroeg vanjaar hoor dit sal dalk nie meer plaasvind nie was sy reaksie: "Ons kan dit nie verloor nie."
Dat dit wel voortgaan, het reeds die deure oopgemaak vir die aanbied van aanstaande jaar se OCC.
Alewijn Dippenaar, voorsitter van die reëlingskomitee, het die George-munisipaliteit bedank vir hul hulp. Dit strek verder as geld en daar is hulp deur van die departemente op die dag van die wedren.
Volgens hom is verskeie mense betrokke by die reëlings. Op die dag van die wedren help byna 500 mense dat alles vlot verloop.
Die roete vir vanjaar se wedren is so beplan dat dit minimale ontwrigtings sal veroorsaak sonder dat die veiligheid van deelnemers in die gedrang kom.
Daar word gehoop om dit die in toekoms uit te brei en internasionale deelnemers te lok. Daar word gepraat met sakeondernemings om te hoor of hulle nie vervoer- en verblyfkoste van atlete sal borg nie.
Dippenaar het aan die George Herald gesê in die stadium is die meerderheid fondse bekom vir die aanbied van vanjaar se wedren. Geld word nog benodig om 'n maaltyd aan deelnemers te kan verskaf die dag voor wedren.
Reëlings is op koers en inskrywings begin inkom. Die geleentheid sal vanjaar nie op dieselfde omvang as in die verlede aangebied word nie. "Ons hoop om dit aanstaande jaar weer op dieselfde omvang as in die verlede aan te bied."
Oor Pretorius se voorstel het hy gesê: "Ons het kennis geneem. Ons sal dit verwelkom as daar 'n week van feestelikhede in die aanloop tot die dag self is. Ons sal so iets steun, maar dit nie self kan reël nie."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'