GEORGE NUUS - Hoër Landbouskool Oakdale se gewilde jaarlikse skuurdans by die 4 Brothers-aartappelstoor buite George was vanjaar weer 'n bul van 'n partytjie met 631 jolige gaste wat aan 'n reuse-os gesmul het.
Vanjaar se skuurdans is deur baie ondersteuners as die mees suksesvolste tot dusver beskryf en verskeie gaste wou sommer dadelik weer kaartjies vir aanstaande jaar bespreek, maar sal moet wag totdat die volgende skuurdans in plek val.
Die saal was gedrapeer met feestelike liggies wat uit die dak gehang het om die keurig gedekte tafels te verlig. Rubbervylsels op die vloer het gesorg dat die dansvoete flink op maat van die aansteeklike musiek kon gly en DJ Morné het gesorg dat die voete heeltyd gejeuk het.
Buite die stoor het osbraaier Jannie Meyer en verskeie ouers, wat as voorsnyers behulpsaam was, gesorg dat die tollie van 230 kg gebraai word om die hongerpyne te besweer. Die spanpoging het gesorg dat die os, wat deur Hermann en Diana Pietersen geskenk is, betyds gaar en geurig voorgesit kon word.
Die twee hooforganiseerders van die dans was Eone de Villiers en Inneke Goosen.
Osbraaier Jannie Meyer staan hier links van die 230 kg-tollie saam met Diana en Hermann Pietersen, wat die karkas geskenk het.
Daar was ook ‘n dekorspan, kosspan, kroegspan, saal opslaan- en afslaanspan, elektriese bystand en nog ander take wat deur vrywilligers verrig is.
Verreweg die meeste kos wat berei is, is deur donateurs geskenk. Fotograaf Eric Waterson het gesorg dat die feestelikhede op sy kamera verewig word.
Sommige van die geesdriftige helpers en voorsnyers by die os saam met osbraaier Jannie Meyer (tweede van regs). Hulle is van links Lincoln van Eeden, Tokkie van Tonder en Peter Reinsdorff. Foto: Johan de Villiers
Die Van Greunen-broers het vanjaar weer 'n reuserol in die suksesvolle skuurdans gespeel deur onder andere die lokaal beskikbaar te stel en talle ander bydraes te maak. Van links is Nelius, Bennie, Johan en Christie van Greunen. Foto's: Eric Waterson
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'