TUINROETE NUUS - Die Suid-Kaapse polisiediens spog met 40 nuwe voertuie waarmee hulle die gemeenskap gaan dien.
Groot kokkedore van die Wes-Kaapse polisiemag, sowel as plaaslike leiers in die polisiediens, het verlede Vrydag die oorhandiging van die voertuie by die polisie se distrikskantoor in Heatherlands bygewoon.
Die voertuie is oorhandig aan bevelvoerders vir drie areas binne die Suid-Kaap, naamlik die Eden-distrik, Da Gamaskop (wat strek van Mosselbaai tot Swellendam) en Beaufort-Wes.
Waarnemende polisiekommissaris, generaal-majoor Thembisile Patekile, het as gasspreker opgetree, met 'n spreekbeurt vir provinsiale adjunk-kommissaris vir sigbare polisie, generaal-majoor Mpumelelo Manci en waarnemende adjunk-provin-siale kommissaris Nomthetheleli Mene.
Generaal-majoor Oswald Reddy, areabestuurder van die polisie in die Suid-Kaap, was ook 'n spreker by die geleentheid.
"Ons polisieer nou 'n nuwe wêreld waar alles vinnig gebeur," het Patekile gesê. "Die voertuie is toegerus met die nuutste tegnologie. Moenie vir ons sê jy moes uitswaai vir iets nie, ons kan sien of dit inderdaad so is."
Charl Jentzel van Ladismith-polisie, waarnemende polisiekommisaris generaal-majoor Thembisile Patekile en generaal-majoor Oswald Reddy, areabestuurder van die polisie in die Suid-Kaap. Foto: Michelle Pienaar
Patekile het gesê ofskoon die voertuie aan die polisie oorhandig word, behoort dit eintlik aan die gemeenskap, wat deur die polisie bedien word. "Dien met integriteit. Doen iets goeds - al sien niemand anders dit raak nie," het hy gesê.
Patekile het lede gemaan om Covid-19-regulasies streng toe te pas met die aanvang van die derde golf en seker te maak dat die publiek ook by die regulasies hou.
Manci het benadruk dat die nuwe voertuie beamptes se moraal sal verhoog en groter sekuriteit aan gemeenskappe sal verleen. "Dit is natuurlik ons hoofdoel," het hy gesê. "Hierdie voertuie is gemaak om rond te beweeg."
Wes-Kaapse polisieorkes het gesorg vir 'n heerlike atmosfeer tydens die geleentheid.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'