GEORGE NUUS - "Een van die dae praat ons van Georgy-wood, of Edenwood," skerts een van die dorp se filmbase, Eon Coetzee, wat baie opgewonde is oor al die aandag wat die Tuinroete tans van filmspanne ontvang.
Coetzee was tot onlangs nou betrokke met die verfilming van Elvis Blue se "El(bus)", maar nou is hy en sy span druk besig met voorbereidings vir hul nuutste produksie, 'n realiteitsreeks met 10 episodes getiteld, Bou saam 'n vrou, wat bestem is vir kykNET.
Verfilming begin 18 Julie, en daar is een week oor, tot 7 Julie, vir laatslapers om hieraan deel te neem. Daar is altesaam 24 posisies wat gevul moet word, waarvan deelnemers slegs 'n week grasie het voor die keuses gemaak word.
"Ons gaan ses kreatiewe, enkellopende vroue tussen die ouderdomme van 25 en 50 kies wat lief is vir binnehuisontwerp, wat elkeen oor 'n paar reekse hul ideale pasmaat, 'n nutsman, moet identifiseer wat saam met hulle 'n skeepsvraghouer in 'n huis gaan omskep," het Monali Kamffer, die produksiebestuur-der, verduidelik.
"Daar is nog 'n kans vir enkel-lopendes om vir die program in te skryf. Ons verwag om groot pret te hê! Hierdie program is 'n mengsel van kreatiwiteit, dekor, spanwerk en moontlik romanse."
Die mans moet handvaardighede besit wat hulle gaan benodig om 'n skeeps-vraghouer te transformeer. 'n Eliminasie-proses volg oor 'n paar episodes, waartydens elke vrou drie mans uit 'n keuse van vyf moet kies. Sy gaan uiteindelik saam met die maat van haar keuse die projek aandurf. Nadat 'n paartjie hul unieke woning geskep het, moet hulle vir 'n week daarin bly.
Hoe skryf jy in?
Mans en vroue wat graag wil inskryf moet 'n informele, 2-minuut Afrikaanse video van hulself stuur, waarin hulle hulself voorstel en redes verskaf waarom hulle graag wil deelneem.
Mans moet hul handvaardighede en ondervinding beskryf, asook hoekom hulle voel hulle is die geskikte persoon om deel te neem. Vroue moet hul belangstelling en ondervinding in binnehuisversiering beskryf.
Stuur ook 'n e-pos na castingcall@eonmedia.co.za met die volgende inligting: 'n vollengte foto; 'n kop-en-skouer foto; volle name, woonadres, geboortedatum, selfoonnommer en epos-adres.
Monali Kamffer, die produksiebestuurder, word geken in die koffiekringe aan haar besondere lewendige persoonlikheid.
Die bekende gladiator, Sonet Behr, is 'n aanbieder van "Bou saam 'n vrou".
Die Afrikaanse sanger, Appel, is ook een van die aanbieders van die program.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'