Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die tolhuis aan die voet van die Outeniquaberge het die afgelope tyd 'n toeloop van besoekers gehad en hulle kon byna nie voorbly om pannekoek te bak en koffie te maak vir al die besoekers nie.
Daar word geen toegangsgeld gevra nie, maar besoekers kan 'n donasie maak vir die pannekoek en koffie. Die donasies word gebruik om die tolhuis te bedryf.
Gerda Stols, voorsitter van die Vriende van die Tolhuis, het by navraag bevestig dat hulle die afgelope tyd 'n toestroming van besoekers gehad het. Sy het gesê mense het weer begin rondry nadat die inperking verslap is.
Die tolhuis is in 1845 op die Montagupas gebou en het in 2018 afgebrand. Dit is daarna herstel en gerestoureer danksy die Vriende van die Tolhuis.
Stols het gesê die tolhuis het ook die afgelope tyd begin met uitbreidingsplanne. Twee personeellede is aangestel. Siphokazi Nocezo tree op as gids en help met die bak van pannekoek en die maak van koffie. Christiaan Els is aangestel as terreinbestuurder.
Nocezo se aanstelling is moontlik ingevolge die EPWP ('n werkskeppingsprogram vir jongmense tussen die ouderdomme van 18 en 35 jaar). Dit vind plaas onder die vaandel van die Wes-Kaapse museumdienste.
Dit maak dit nou moontlik om elke weeksdag van 08:30 tot 15:00 oop te wees. Naweke is die tolhuis oop tussen 08:30 en 13:00. Voorheen was die tolhuis net naweke oop.
Volgens Stols is meer mense bewus van die tolhuis en is dit 'n gewilde toerisme besoekpunt. In die week is dit meestal bejaarde mense wat besoek aflê en naweke jonger mense wat byvoorbeeld daar stop as hulle fietsry in die Montagupas.
Die bal is reeds aan die rol om 'n ossewa-herberg daar te vestig waar mense in 'n ou ossewa sal kan oornag. Daar is ook planne om meer musiekuitvoerings daar te hou. Op 12 en 13 Junie word 'n harp- en kitaar- konsert gehou. Streng Covid-19-regulasies sal toegepas word. Daar is 'n beperkte aantal sitplekke en mense moet vooraf bespreek.
Onder die skenkings wat onlangs ontvang het, is 'n orrel wat tussen 1870 en 1890 in Kanada gebou is. Wim Filmalter van Riversdal het die orreltjie gediens en skoongemaak tydens 'n onlangse besoek aan die tolhuis.
Kyk 'n video hieronder:
Filmalter het vertel dat hy dit as 'n stokperdjie doen.
Die orreltjie is in 'n redelike goeie toestand. Dis 'n traporreltjie, maar speel op fluitjies. Dis reeds in 1923 die eerste keer herstel en weer gediens in 1984.
Nocezo het gesê een van die algemeenste vrae wat besoekers vra is wanneer die tolhuis gebou is. Volgens haar is die tolhuis 'n aangename en vredevolle plek.
"Daar is 'n behoefte vir meer sulke toerismeplekke."
Wim Filmalter van Riversdal by die orreltjie wat hy gediens en skoongemaak het tydens 'n besoek aan die tolhuis.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'