Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Groter samewerking tussen die sakegemeenskap en belanghebbendes gaan plaasvind om meer aandag te gee aan misdaad in die middedorp.
Dit volg na die Gemeenskapspolisiëringsforum sektor 1 onlangs 'n nuwe bestuur gekies het. Dié deel sluit in die sentrale sakekern en 'n deel van George se nywerheidsgebied.
Jeff Lester, die nuwe voorsitter van die forum, het by navraag gesê sakeondernemings staan saam. Mense word gevra om die forum in kennis te stel as hulle kennis dra van enige misdaad of verkeersprobleme.
Die forum sal hulle dan weer in verbinding stel met die regte mense sodat die situasie ondersoek kan word. Die forum doen 'n beroep op die sakegemeenskap om betrokke te raak en so 'n verskil te maak in misdaadbekamping.
Barry Botha, visevoorsitter van die forum, het gesê hy het onlangs 'n gesprek gehad met dr. Dennis Farrel, voorsitter van die George-sakekamer. Die forum het die sakekamer gevra om hul pogings te steun. Volgens Botha het Farrel namens die sakekamer aangedui hy sal dit steun.
Die doel van die jongste pogings is om hande te vat en aandag aan die misdaadprobleem te gee. Hy het benadruk dit sal plaasvind in samewerking met al die belanghebbendes soos byvoorbeeld die polisie en verkeersafdeling. "Ons wil hê dat mense nog in die middedorp moet kom."
Dit is belangrik dat die gemeenskap betrokke is. "Die GPF is handig, maar dit moet reg bestuur word."
André Olivier wat oorhoofs betrokke is by gemeenskapspolisiëringsforums, het gesê die komitee wat verantwoordelik is vir die bestuur van George GPF sektor 1 is onlangs gevestig.
Die doel is om veiligheid in die gebied vir sakeondernemings te bevorder. Hulle wil help sodat dit moontlik sal wees dat meer klante na die gebied kan kom. Daar word gehoop dat beter wetstoepassing sal plaasvind. Aandag sal onder meer gegee word aan die vermindering van haweloses en hoe inbrake verminder kan word. Een van die voordele is dat daar een stem vir die sakegemeenskap is. Eienaars van sakeondernemings hoef nie meer as individue op te tree nie.
Die Gemeenskapspolisiëringsforum sektor 1 het onlangs 'n nuwe bestuur gekies. Hier is van links: Jeff Lister, Rupert Pretorius, André Olivier, Barry Botha, Louisa van Heerden en kapt. Louis Botha. Foto's: Eugene Gunning
Kyk 'n video hieronder:
Kapt. Louis Boshoff van die polisie het die verwikkelinge verwelkom. Hy gesê daar is baie uitdagings. Mense is welkom om betrokke te raak. Misdaadbekamping is 'n vennootskap. Hy het benadruk dat die polisie steeds die ondersoekwerk sal doen. Die gemeenskap is welkom om enige inligting rakende misdaad na die regte mense deur te gee.
Farrel het gesê veiligheid in die stadskern is baie belangrik. Verskeie gesprekke het reeds met belanghebbendes insluitende genl.maj. Oswald Reddy, polisiebevelvoerder van die Eden-gebied en munisipale verteenwoordigers, plaasgevind.
Die volgende vergadering vind op 20 Maart plaas by die menasie van die polisie in Courtneystraat. 'n Inligtingsbrosjure word opgestel en sal vanaf 20 Maart beskikbaar wees. Mense wat meer inligting verlang kan Rupert Pretorius bel by 082 822 1870.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'