GEORGE NUUS - Pastoor Ockie Taylor van die Soteria-gemeente het ná 40 jaar in die bediening amptelik die aflosstokkie oorgegee aan pastoor Riaan Bezuidenhout.
Bezuidenhout is 'n bekende gesig in George en was die afgelope 12 jaar voltyds betrokke by Eden-gemeente waar hy diep spore getrap het.
Hy was 25 jaar in die bediening voordat hy twee jaar gelede in die privaat sektor gaan werk het.
"Die ervaring en in-diepte kennis wat ek die afgelope twee jaar opgedoen het, sal ek vir niks verruil nie.
"Ek het opnuut weer balans gekry en mense leer ken."
Hy het suksesvolle besigheid gedoen saam met Grow Green Organics en StoneworX.
"Maar my hart smag weer na die bediening. Ek voel dit is nou die tyd dat ek die stap neem om my roeping ten volle uit te leef.
"Met 'n herlaaide gees en my passie vir dit waarvoor ek geskape is, het ek nog nooit so reg gevoel om die kerk en die gemeenskap te bedien nie.
"Ek sal alles in my vermoë doen om my visie na te streef, naamlik om God te sien werk in en deur ander mense."
Hy en sy vrou Suzelle en twee kinders, Carlo en Lumè sien uit na die nuwe uitdagings op hulle pad.
Bezuidenhout lewer sy intreepreek op 26 November en sal dan as voorsittende leier van Soteria-gemeente dien.
Vir meer inligting, bel die kerkkantoor by 044 874 1842 of besoek hulle by Victoriastraat 27.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'