GEORGE NUUS - Willie-John van Niekerk en Okkie Stander is nou gesamentlik aan die stuur van sake by die George Erfenistrust. Hulle neem die leisels oor by Henry Paine, die huidige voorsitter. Van Niekerk en Stander sal om die maand die voorsitterskap roteer.
Daar is op die nuwe reëling besluit omdat Paine aanstaande jaar vir lang tydperke as gevolg van ander verpligtinge nie beskikbaar gaan wees nie.
Van Niekerk en Stander is beide bekendes in kultuur historiese ewaringskringe en voel sterk oor bewaring.
In 'n gesamentlike onderhoud het hulle benadruk die nuwe reëling raak glad nie die werksaamhede van die trust nie. Trouens hulle het planne om die werksaamhede van die trust nog verder uit te brei.
Hulle wil hê die trust moet uitreik na gemeenskappe en daar moet groter gemeenskapsbetrokkenheid wees.
Volgens hulle is die trust 'n nie-winsgewende organisasie en almal wat daarby betrokke is doen dit vrywillig. Die trust dien as waghond vir bewaring in George namens Erfenis Wes-Kaap. Die trust doen verslag aan dié instansie.
Hulle sien die taak van die trust nie om as polisieman op te tree nie, maar eerder om te help en op te bou. Hulle wil nie in die pad staan van ontwikkeling nie, maar wil seker maak dat bewaring plaasvind ingevolge wette en regulasies.
Stander het gesê bewaring is belangrik sodat nageslagte dit kan geniet.
As dit nie aandag kry nie sal byvoorbeeld ou geboue in dorpe en stede verlore gaan. George het juis verskeie ou geboue. Die bewaring van ou geboue is ook 'n belangrike toeriste aantrekkingskrag.
Mense besef dit nie altyd nie, maar hulle moet eers toestemming kry voordat hulle enige verbrekings/verbouings aan enige struktuur van 60 jaar en ouer aanbring. Dit gaan nie net oor geboue nie, maar dit sluit ook byvoorbeeld ou bome in.
Van Niekerk het gesê die trust wil bewust-heid van bewaring by gemeenskappe skep deur inligting aan hulle te verskaf. Eienaars van strukture moet besef hulle het 'n verantwoordelikheid.
As deel van die bewusmaking gaan daar met eiendomsagente koppe bymekaar gesit word. Hulle is die belanghebbendes wat midde staan in eiendomstransaksies.
Die plan is om 'n boekie te publiseer waarin in eenvoudige taal die reëls/regulasies/prosesse verduidelik word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'