GEORGE NUUS - 'n Nuwe en volwaardige gemeenskapsveilig-heidsorganisasie vir die Eden-gebied, wat die Waboomskraal-Herold-omgewing op die N12 en N9 (R62) nasionale roetes insluit, gaan in die lewe geroep word.
Die Eden Gemeenskapsveiligheidseenheid (GVE) is 'n resultaat van 'n werksessie verlede Saterdag, 9 September, waar vele belanghebbendes en gemeenskapsleiers saamgespan het om die veiligheid in die streek te verbeter.
Hierdie organisasie beoog om 'n sinergie van verskeie gemeenskapsveiligheidsorganisasies en belangegroepe tot stand te bring om die plaaslike gemeenskap te beskerm en te dien.
Tydens die werksessie by die NGK Herold se kerksaal het meer as 80 belanghebbendes en veiligheidsleiers van regoor die Tuinroete, Kareedouw, Graaff-Reinet, en selfs Upington, saamgekom om die Eden Gemeenskapsveiligheidseenheid (GVE) te vestig.
Roland de Vries, bekende veiligheidskenner, was die hoofspreker en hy het ook as gespreksleier opgetree.
Aanwesiges by Saterdag se werksessie. Hier is Kemp Myburgh, dryfkrag agter die geleentheid aan die woord.
Kemp Myburgh, 'n proteaboer van Waboomskraal, was die dryfkrag agter die geleentheid. Hy het Maandag 11 September gesê daar moet pro-aktief opgetree word. Dit was vir hom duidelik tydens die geleentheid dat daar is 'n groot behoefte vir so 'n organisasie en interaksie is.
"Dis duidelik dat byvoorbeeld die polisie en nooddienste nie apart kan optree nie. Ons het mekaar se ondersteuning nodig."
Voorts het die belangrike rol van burgerlike organisasies soos AfriForum en organiseerde landbou na vore gekom.
Volgens Kemp gaan die operasionele beplanning nou plaasvind. Daar sal ook 'n interim bestuurspan saamgestel word. Verskillende spanne sal ook gevestig word om landelike veiligheid, inligting, lugsteun en opleiding te behartig.
Gebeurlikheidsbeplanning sal vir 'n plaaswag gedoen word en daar word in die vooruitsig gestel dat dit voor die einde van die jaar voltooi sal wees. Die gedagte is om die GVE se vestiging binne twee jaar af te handel.
Chris du Toit, internasionale veiligheids- en sekuriteitskonsultant en Roland de Vries. Hulle was in die 80's saam in die destydse Suid-Afrikaanse weermag.
Roland de Vries tydens Saterdag se verrigtinge. Foto's: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’