GEORGE NUUS - ‘n Raadsbesluit is vanmiddag, Donderdag 25 Augustus geneem om ‘n Seksie 106 ondersoek teen die direkteur van korporatiewe dienste, Siphiwo James, van stapel te stuur. Hierdie item is as ‘n konfidensiële raadsitem hanteer.
Die aantyging teen James handel oor die aanstelling van ‘n waarnemende bestuurder in James se department.
James het by navraag gesê hy is tans op verlof en is eers weer Maandag terug op kantoor. Hy het alle navrae na die munisipale bestuurder, dr. Michele Gratz, verwys.
Terugvoer van die munisipale woordvoerder word afgewag.
Saptoe
In nog ‘n verrassende wending, vroeër vanmiddag, het dit aan die lig gekom dat Good-raadslid Donovan Saptoe as raadslid bedank het.
‘n Item wat handel oor ‘n ondersoek rakende Saptoe, wat blykbaar versuim het om drie agtereenvolgende komiteevergaderings by te woon, is van die agenda onttrek. Hoofsweep van die raad, Marlene Barnardt, het verduidelik dat die item onttrek is omdat Saptoe as raadslid bedank het.
“Saptoe decided to resign as a councillor and not face the music,” was Barnardt se kommentaar na die afkondiging. Dit het hewige reaksie by die opposisielede ontlok.
Beide Faith Mdaka van die ANC en Theresa Jeyi van Good het opgemerk dat daar jag gemaak word op Good-raadslede.
Donovan Saptoe
Hector
Volgende op die agenda was twee items oor Good-raadslid Richard Hector, rakende ‘n beweerde oortreding van die gedragskode vir raadslede. Die aanbeveling op die eerste agendapunt was om die bewerings van die hand te wys, en dus nie op te tree nie. Op die tweede beweerde oortreding is die raad ingelig dat daar wel ‘n ondersoek sal plaasvind.
Speaker Sean Snyman het gesê hy het geen ander opsie as om die bewerings te laat ondersoek nie. Die beweerde oortreding hou verband met wangedrag teenoor ‘n amptenaar tydens ‘n vergadering. PBI-raadslid, Virgill Gericke, het tydens die item met die speaker in ‘n woordestryd getree.
Hy het gesê daar word verstaan dat die speaker ook by dieselfde vergadering teenwoordig was, en moontlik as ‘n getuie geroep mag word, en dus nie as speaker met die betrokke item mag optree nie, omdat dit ‘n konflik van belange sou wees.
Saptoe het by navraag gesê hy het reeds Maandag as raadslid bedank, maar dat dit niks te doen het met die aantygings teen hom nie. Hy het glo gevra om van twee van die komitees geskuif te word, en dit is volgens hom nooit na behore gedoen nie. “My bedanking het te doen met interne partyprosesse en my toekoms in Good,” het hy gesê.
“Ek is meer toegewyd aan Good se vooruitgang en opbou as ooit te vore. Dit is jammer dat die Chief Whip van die raad besluit het om punte as DA-raadslid te probeer score rondom ‘n eenvoudige item.”
Dit is nog nie duidelik wie Saptoe se plek in die raad oorneem nie.
Richard Hector
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'