GEORGE NUUS - Uit die hof:
Jongman vas vir huisbraak en diefstal
'n Jongman (17) van Thembalethu is twee keer in een week vir diefstal en huisbraak in hegtenis geneem.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, is die verdagte Woensdagaand, 18 Maart by 'n huis in Pacaltsdorp in hegtenis geneem in verband met 'n huisbraak en diefstal van selfone op 'n plaas in die omgewing.
"Hy is daardie aand vrygelaat op 'n waarskuwing om in die hof te verskyn en in die sorg van sy ouers geplaas. Ná hy vrygelaat is het hy na bewering teruggekeer na dieselfde plaashuis en weer ingebreek," sê Pojie.
Volgens Pojie het die verdagte met 'n groot bedrag kontant van die toneel gevlug.
"Pacaltsdorp-polisie se speurders het inligting opgevolg waarna hulle die verdagte Sondagaand, 22 Maart, omstreeks middernag by 'n woning in Pacaltsdorp in hegtenis geneem het," sê hy.
Die verdagte was geskeduleer om gister, Woensdag 25 Maart, in die George-landdroshof te verskyn. Teen druktyd kon besonderhede rondom sy verskyning nie bevestig word nie.
Twee vas vir dwelms
Pacaltsdorp-polisie het Donderdag 19 Maart twee mans in hegtenis geneem vir die besit van dwelms na agt en 'n half Mandrax-tablette in hul besit gevind is.
"Tydens dieselfde optrede is nog 'n verdagte, vir wie 'n lasbrief in 'n diefstalsaak uitgereik is, ook op dieselfde perseel aangetref en gearresteer," sê Pojie. Die bogenoemde 17-jarige verdagte is op dieselfde perseel as die ander drie in hegtenis geneem.
Ontbinde lyk in Outeniquapas gevind
Die erg ontbinde lyk van 'n volwasse vrou is verlede Vrydagmiddag, 20 Maart, sowat 11 km buite George in die Outeniquapas-omgewing gevind.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, sê die lyk is in die bosse direk agter die muurtjie, wat die pad afsper, gekry.
Werkers wat besig was met die uitdunning van uitheemse bosse het op die liggaam afgekom.
Teen druktyd Woensdagoggend kon die polisie geen verdere inligting rondom die voorval verskaf nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'