GEORGE NUUS - 'n Polisie-oefening om 'n bomdreigement by 'n kleuterskool in die middedorp na te boots, het beter resultate opgelewer as wat iemand ooit kon dink toe 'n vermoedelik gesteelde sak met visvangtoerusting op die perseel gevind is.
Tydens die oefening op Vrydag 29 Mei by ACVV Vinknes is die sak op die perseel gevind toe die plaaslike polisie en brandweerdienste besig was om die kleintjies en opvoeders te wys wat om te doen indien hulle ooit 'n bomdreigement ontvang.
Volgens Vinknes se skoolhoof, Christelle Botha, het die nabootsing van 'n bomdreigement baie goed afgeloop. "Te danke aan kapt. Rosmund Stripp (George), kapt. Glen Heyns van die K9-honde-eenheid en George-brandweer se Solly Gysman, kon ons al 232 kinders binne minute veilige buite die perseel kry," vertel Botha.
Dit was egter tydens die nabetragting in Botha se kantoor toe een van die opvoeders, Amelia Botha, sê sy het 'n verdagte sak op die skoolterrein opgemerk.
"Aanvanklik het ons gedink dis 'n grap, maar dis toe werklik 'n gesteelde sak vol klere en visvangtoerusting wat blykbaar vroeër oor die muur gegooi is om later opgetel te word," sê Botha.
Volgens die polisie is daar vroeër die oggend by 'n voertuig ingebreek en die sak is gesteel. Die sak is kort daarna aan die regmatige eienaar oorhandig.
Die sak met visvangtoerusting wat gevind is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'