GEORGE NUUS - Kunskenner Matthys Strydom van George se langverwagte opvolgboek van Stories teen my muur is nou beskikbaar. Nog stories teen my muur word Saterdag 6 November om 10:30 by Die Waenhuis Gastehuis, Caledonstraat 11 bekendgestel, met die skrywer Riana Scheepers in gesprek met Strydom.
Stories teen my muur het in 2016 die lig gesien en Nog stories teen my muur bied kunsliefhebbers en almal wat van goeie boeke hou, verdere insae in Strydom se interaksie met Suid-Afrikaanse kunstenaars as eienaar van Strydom Galery in George van 1969 tot 1999.
Net soos in Stories 1 laat Strydom in Stories 2 die galery, kunstenaars en kunswerke herleef. Hoe hy van sy gunstelingwerke in sy eie versameling bekom het, is 'n integrale deel van die boek.
Nog stories teen my muur is opgedra aan "Wyle skilder Judith Mason en die enkele kunstenaars in ons versameling wat nog leef." Sy verhaal oor Mason is in Stories 1 opgeneem.
Elke hoofstuk se titel is 'n lusmaker en 'n leidraad oor die prikkelende lekkerlees wat wag. Die stuk oor Pierneef is getiteld 'n Don-Quichotiese Windmeule terwyl die skrywe oor Jean Welz se opskrif lui Die 'Enemy Alien' van Barrydale.
Alexis Preller se hoofstuk is 'n Bisarre Einde, Hardy Botha is Die Sirkusman, en Frieda Ollemans en ons eie Beatrix Bosch word beskryf as 'n Beeldhouer en die Leervrou. So word altesaam 38 kunstenaars in Matthys se outobiografiese vertellinge belig, met sy argitekvrou, Helene - self 'n uitstekende kunstenaar - wat plek inneem in die laaste hoofstuk met die titel Eet jy Waterblommetjies?.
En, as jy hou van lekker eet, geniet jy beslis waterblommetjies en as jy van 'n goeie boek vol kleur en geur hou, dan lees jy Nog stories teen my muur. Dit is beskikbaar teen R450, Stories teen my muur is R350 en die twee saam is R700.
Diegene wat in die George-omgewing woon kan die boek/e by Matthys Strydom koop, kontak hom by mjstrydom2@gmail.com . Vir die wat moet bestel, kontak Johan Strydom in Kaapstad by johanstrydom9@gmail.com . Navrae: 083 632 6934 (slegs WhatsApp of sms).
Om 'n stoel by die boekbekendstelling op 6 November te bespreek, RSVP by Madeleine Smuts van Die Waenhuis by 083 461 9302.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'