GEORGE NUUS - Geen besluit is nog geneem oor die beveiliging van Voëlklip, die berugte en gevaarlike uitkykpunt by Heroldsbaai nie. Groter duidelikheid sal na verwagting vroeg volgende jaar verkry word.
Dit volg na verskeie wekroepe uit die gemeenskap dat daar dringend ingegryp moet word om nog dodelike voorvalle te voorkom. Verskeie selfdoodvoorvalle asook ongelukke het die land die afgelope paar jaar geskok. In die mees onlangse geval het Zonita Basson (52) van George op 3 Desember daar gesterf toe haar kar by die krans naaste aan die baai tot in die see gestort het.
Die voorval was minder as 2 km van waar 'n gesinstragedie op 22 Oktober plaasgevind het. Heidi Scheepers (35) en haar twee kinders, Hugo (2) en Cozette (6) het toe gesterf.
Dit blyk dat gemeenskaps- en politieke leiers intussen betrokke is by pogings om te kyk hoe die situasie opgelos kan word. Dit is privaat grond.
Paul Gerber van AfriForum, wat saam met adv. Gert van Niekerk van die VF Plus en die DA se wyksraadslid vir die gebied, Johan Stander, na moontlike oplossings soek, het by navraag gesê hulle beplan om die eienaar te ontmoet.
Hy het gesê indien daar enige veranderinge plaasvind, dit aanstaande jaar sal gebeur.
'n Ingeligte, wat nie sy naam genoem wil hê nie, het Dinsdag daarop gewys dat ofskoon die grond in privaat besit is, dit 'n geproklameerde provinsiale pad is.
Dit is 'n openbare pad en die provinsie is die eienaar. Die staat het jurisdiksie oor die pad. Die Garden Route-distriksmunisipaliteit hou die pad namens die provinsie in stand.
Foto: Wessel van Heerden
Planne vir Voëlklip
'n Aanduiding oor wat wel in die toekoms kan gebeur, het verlede Donderdag, 5 Desember, tydens die stadsraadsvergadering aan die lig gekom.
Dit blyk dat die eienaar oorweeg om 'n parkeerterrein daar te bou, weg van die kranse langs die see, en toegang sal dan slegs te voet verkry kan word.
Raadslid Johan Stander het as die raadslid vir wyk 23, wat Heroldsbaai insluit, 'n dringende mosie ter tafel gelê. Hy het 'n beroep op die stadsraad en die bestuur van die munisipaliteit gedoen om dringend pro-aktief betrokke te raak met die ondersoek aangaande die veiligheid met die gebruik van die grondpad en parkeerareas by Voëlklip.
Luidens die mosie is die direktoraat stadsbeplanning en grondsake besig met 'n ondersoek om die status van die pad te bepaal.
Athane Scholtz, munisipale woordvoerder, het Maandag gesê die munisipaliteit was in verbinding met die eienaar van die eiendom. Volgens haar het hy aangedui dat hy maatreëls in plek wil stel, op sy eie koste. Besonderhede rondom dit is nie finaal nie.
Foto: Wessel van Heerden
Die eienaar het geen bou- of beplanningstoestemming van die munisipaliteit nodig nie, en kan voortgaan wanneer hy gereed en in staat is om dit te doen.
Dit is nog nie skriftelik bevestig nie, maar die departement beplanning het aangedui dat die eienaar se beplande maatreëls aanvaarbaar sal wees binne die bepalings van wetgewing op kusgebiede.
No final decision has been taken regarding possible steps to secure the road at Voëlklip near Herold’s Bay. The property belongs to a private individual and civil and political leaders are trying to address the situation. According to inside information, though the road is privately owned, it falls under jurisdiction of Western Cape province and is maintained by the Garden Route District Municipality.
Lees verwante arikels:
- Dit is wat in die toekoms by Voëlklip kan gebeur
- Optrede gevra oor Voëlklip
- Nog 'n tragedie by Voëlklip
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'