Update
GEORGE NUUS - Groter duidelikheid oor wat by Voëlklip by Heroldsbaai in die toekoms kan gebeur, het vandag (5 Desember) aan die lig gekom tydens die maandelikse stadsraadsvergadering.
Die eienaar oorweeg om 'n parkeerterrein daar te bou, weg van die kranse langs die see, en toegang sal dan slegs per voet verkry kan word.
Dit het ter sprake gekom toe Johan Stander, die wyksraadslid vir die gebied, 'n dringende mosie ter tafel gelê het.
Die pad en die grond behoort aan 'n privaat persoon. Baie vrae is die afgelope tyd gevra oor wat daar in die toekoms gaan gebeur omdat verskeie mense reeds daar gesterf het. In die jongste voorval het Zonita Basson (52) Dinsdagaand daar gesterf toe haar motor oor die afgrond gegaan het. Geen gemene spel word vermoed nie.
Stander het in sy motivering benadruk dat die mosie reeds in November opgestel (voor die jongste voorval) is en dit het 'n paar keer oorgestaan.
Hy het gesê die mosie gaan oor 'n uiters gevaarlike grondpad en parkeerareas by Voëlklip.
"As die raadslid vir wyk 23, wat Heroldsbaai insluit, doen ek namens die gemeenskap van die groter George 'n beroep op die stadsraad en die stadsbestuur van George-munisipaliteit om dringend pro-aktief betrokke te raak met die ondersoek aangaande die veiligheid vir die publiek en toeriste met die gebruik van 'n grondpad en parkeerareas by die kranse te Voëlklip, Heroldsbaai."
Luidens die mosie is die direktoraat stadsbeplanning en grondsake reeds besig met 'n ondersoek om die status van die pad te bepaal. Daar moet onder meer vasgestel word of dit 'n geproklameerde pad is en onder wie se jurisdiksie dit val.
Delia Power, waarnemende direkteur beplanning, het namens die munisipaliteit 'n spreekbeurt gekry en aangedui dat die instansie kontak met die eienaar gehad het. Hy het toe aangedui wat sy voorneme en planne is.
Verteenwoordigers van verskeie politieke partye het Stander se mosie gesteun.
Na die mosie het raadslede en amptenare 'n oomblik van stilte gehou ter nagedagtenis aan die mense wat die afgelope tyd daar gesterf het en hul naasbestaandes.
Lees 'n verwante artikel: Optrede gevra oor Voëlklip
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'