GEORGE NUUS - Die Kankervereniging van Suid- Afrika (Kansa), George-tak, se jaarlikse hoogtepunt, Koppie vir Kansa, gaan virtueel plaasvind te midde van Covid-19.
Al die opwinding, kompetisies met pryse, lootjies en tydskrifte vorm weer deel van die geleentheid, sê Minette van Zyl, Kansa se Suid-Kaap-bestuurder. "Gasvroue en gashere gaan weer die kans kry om hulle talente in te span om geld vir KANSA in te samel."
Deelnemers kan enige datum tussen 1 en 14 Maart kies om hul Koppie vir Kansa aan te bied. Dit kan soos in die verlede gedoen word, maar in lyn met die regulasies ten opsigte van die inperkingsmaatreëls soos bepaal deur die regering.
"Vanjaar is daar geen tema nie, maar weens die inperking het ons inspirasie gevind in die kleinste, en mees alledaagse goed. En wat beter om ‘n vrou te laat goed voel as ‘n pragtige tafel. Ons sien uit na die geleentheid om die vroulikheid van kant, nostalgie, swier, romantiek, elegansie en pêrels te kombineer met die heerlikste fyn teehappies en vrolike geselskap, en om tafel te dek met flair," sê Van Zyl.
"Dek 'n tafel in jou gunsteling omgewing, hou by die voorgelegde inperkingsmaatreëls ten opsigte van jou gastelys en voorsien die nodige eetgoed vir jou gaste."
Gaste betaal 'n donasie van R100 per sitplek. Daar is 10 sitplekke aan elke tafel beskikbaar. Die totale donasie van R1 000 per tafel is betaalbaar aan jou Kansa-verteenwoordiger of per elektroniese bankoordrag in Kansa se bankrekening.
"Ons doen 'n beroep op mense om hande te vat met Kansa en sodoende ’n verskil te maak in die lewe van iemand met kanker."
Kansa versoek dat gasvroue foto's neem van hul tafels, want hierdie jaar wil hulle pryse gee vir die tafel met die "oorspronklikste idees", “meeste pret om die tafel” en die “deftigste tafel”. Die tafels sal onafhanklik beoordeel word
Vir meer inligting, kontak Minette van Zyl by mvzyl@cansa.org.za of 082 443 3601 of Rita Marx by 044 870 8256 of 083 564 7341.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'