GEORGE NUUS - Naomi Erasmus van Voorbaai het die eerste prys van R10 000 gewen in die Veerlose Vlerke-projek van Laerskool George-Suid. Godfrey Rheeder van George was die wenner van die R5 000 tweede prys.
Die Veerlose Vlerke-projek het reeds op 19 September afgeskop. Twee van die skool se personeellede, Neva Bernstine en Nadia Jubber, het Saterdag 29 Oktober, dapper skoene aangetrek en 'n tandem-valskermsprong uitgevoer.
Die twee onderwysers het op 'n hoogte van 10 000 voet 'n tandemsprong uitgevoer en kort na 13:00 veilig op die skoolterrein geland.
Dit was danksy Skydive van Mosselbaai. Mense kon 'n lootjie teen R10 elk koop vir 'n kans om R10 000 los te slaan.
Elke lootjie het 'n deel op die skoolveld verteenwoordig en die wenners is bepaal deur te kyk waar die springers geland het.
Beide die onderwysers het dit as 'n ondervinding van 'n leeftyd beskryf. "Dit was fantasties om George en die omliggende areas uit 'n ander perspektief te sien. Die vryval duur net 'n paar sekondes, maar dit was absoluut asemrowend," het Bernstine vertel.
Die geld wat tydens die projek ingesamel is, word gebruik om kos te koop vir mense in nood. Die George Vryburgers sal die fondse deur hul Kos vir Kinders-projek bestuur en sewe skole uit die omgewing ondersteun met 'n daaglikse kospakkie vir leerders.
Laerskool George-Suid sal deur sy Omgee-projek nood kan verlig aan kinders en ouers van die skool en gemeenskap.
Sas du Plessis, hoof van die skool, het die gemeenskap, die George Vryburgers en die skool bedank vir elkeen se deelname. "Dit was vir seker 'n dag om te onthou en iets wat ons volgende jaar selfs nog meer gaan uitbrei. Ons het reeds 'n paar nuwe idees wat ons wil toepas," het hy gesê.
Hildred Basset, lid van die Vryburgers, Naomi Erasmus, wenner van R10 000, Hanno Marais, lid van die Vryburgers, Sas du Plessis, hoof van Laerskool George-Suid, Godfrey Rheeder, wenner van die R5 000 en Casper de Waal, lid van die Vryburgers.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'