GEORGE NUUS - Nie eers die dra van maskers en die uitdagings van inperking, blus die liefde van Hendrik (93) en Annie (92) Mouton wat op 5 Augustus, 70 jaar getroud was nie.
Die egpaar wat in die Genevafontein-aftreeoord in George woon, is nog net so verlief soos 70 jaar gelede toe hulle in die NG kerk Florida in die destydse Transvaal getroud is. Hulle hou graag hande vas en kyk graag vir mekaar. Hulle leef elke dag asof dit hul laaste is. Hulle sit beslis nie op die stoep en wag vir die dood nie.
Dinsdag het hulle vertel van die lang paadjie wat hulle al saam geloop het en was dit eens dat hulle nie spyt is dat hul lewenspaaie destyds gekruis het nie.
Hendrik het grootgeword in die Boesmanland waar sy ouers veeboere was. Dit was moeilike tye en droog. “Die droogte het my na die polisie gejaag.” Dit was die begin van 'n lang en interessante loopbaan as geregsdienaar waar hy op verskillende plekke regoor Suid-Afrika gestasioneer was.
Hy het in 1982 in Durban as 'n brigadier afgetree.
Annie het grootgeword op Mosselbaai en kom oorspronklik van die Vleesbaai-omgewing. Na skool het sy Transvaal toe gegaan om te verpleeg. In 1948 het 'n vriendin se vriend, haar en Hendrik aanmekaar voorgestel. Haar nooiensvan was Johnson.
Volgens hulle was dit nie liefde met die eerste oogopslag nie. Die liefde het eers ’n rukkie later begin blom. Sedert hulle troue in 1950 is hulle onafskeidbaar. Die twee stap tot vandag toe nog oral hand-aan-hand.
Hendrik en Annie Mouton op 5 Augustus 1950 toe hulle getroud is in Florida in die destydse Transvaal.
Omdat Hendrik so baie van die huis af weg was vir werk, het hy in 1982 besluit om op 55-jarige ouderdom af te tree. Hulle het toe in George kom vestig.
Beide is ywerige stappers en het al verskeie staproetes regoor Suid-Afrika, in van die buurlande en selfs Europa aangedurf. Die Moutons het in 1986 die Berg en Dal-voetslaanklub in George gestig.
Met die inperking kan hulle nie baie stap nie en hulle stap deesdae gewoonlik net kort ente.
Beide is nog gesond en bly besig. Volgens hulle is een van die redes vir hul lang gelukkige huwelik die feit dat hulle dinge saamgedoen het soos byvoorbeeld om saam te stap.
Die egpaar het vier kinders gehad, maar die jongste, 'n dogter is al oorlede. Die ander drie, Ronelle Valentyn, woon in Ierland, Donald woon in die Paarl en Alex in Pretoria. Daar is ook nege kleinkinders en ses agterkleinkinders.
Hendrik (93) en Annie (92) Mouton wat op 5 Augustus 70 jaar getroud was.
Foto's: Eugene Gunning
Georgians Hendrik (93) and Annie Mouton (92) did not allow lockdown and having to wear masks to dampen their celebration of their 70th wedding anniversary. They are still very much in love. They met in 1948 and were married two years later on 5 August 1950.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'