TUINROETE NUUS - Sjef Emile Nel van die Bahia Bleu Restaurant, Diaz Hotel, het die Suid-Kaap Fynproewersgilde en gaste onlangs op 'n ware veganistiese feesmaal getrakteer.
Meeste restaurante ervaar ‘n groeiende vraag na veganistiese geregte. Nel het hierdie uitdaging aanvaar en ten einde geurige, hoë gehalte maaltye te verseker, het hy homself op 'n veganistiese dieet geplaas.
Gedurende hierdie tyd het hy met veganistiese geregte en plaasvervangerbestanddele geëksperimenteer wat hom in staat gestel het om 'n feesmaal aan die fynproewers te demonstreer.
Die eerste gereg was appel- en skorsiepoffertjies op pampoenpuree. Hierdie geurige gereg demonstreer die wonder van al die beskikbare pampoenvariëteite. Die volgende gereg, botterskorsie- en kekerertjie-kerrie was onmiddellik ‘n treffer met sy ryk en warm geure en sal ‘n gunsteling op enige spyskaart wees.
Daarna is ‘n eierlose veganistiese tempura gedemonstreer. Die beslag is gebruik in die sojasous en lemoengeglaseerde blomkool wat met roerbraaigroente en rys bedien is. Hierdie gereg vra ‘n tweede porsie.
Met seitan, beet en ‘n paar geheime bestanddele, verras Nel die gehoor met veganistiese steak en barbeque-sous. Laastens is die soettand bederf met die demonstrasie van eierlose ekuimpies, bedien met veganistiese sjokoladebruintjies.
Veganiste kan hulle regmaak vir ‘n feesmaal op die Bahia Blue-spyskaart.
Nell-Marie le Roux het die fynproewers bekend gestel aan Longridge se biodinamiese wyne – dit is wyne waar daar in die wynproduksie gebruik gemaak word van organiese boerderymetodes (soos die gebruik van kompos as kunsmis en die vermyding van plaagdoders). Maaltye is gekomplementeer met The Emily Chardonnay Pinot Noir, Chardonnay (2017) en Merlot (2018).
Die Suid-Kaap Fynproewersgilde hou gereelde kosdemonstrasies saam met van die beste sjefs in hierdie omgewing. Die volgende demonstrasie sal op 6 Mei plaasvind. Vir meer inligting of om aan te sluit, kontak Santie van Vuuren (082 461 0777) of Ena Jacobs (082 416 5304).
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'