Update
GEORGE NUUS - "Dit is 'n dag wat ons nooit sal vergeet nie. Dit was ons mooiste, spesiale dag." Só beskryf McKayla Küzel Saterdag 20 Augustus toe sy en haar man, Raylond, op die strand by Leentjesklip, Wilderness, te midde van koue en reën in die huwelik bevestig is.
Nadat hulle hul troubeloftes afgelê het en die formele seremonie afgehandel is, het die bruidspaar eenkant op die strand poseer vir foto's. Die gaste het geduldig op die strand gewag waar die onthaal ook sou plaasvind.
Hulle was besig met die laaste foto's toe 'n sterk reënbui skielik begin uitsak. Hulle en die gaste moes inderhaas skuiling soek. Dit het egter nie die paartjie afgesit nie en almal het by 'n nabygeleë gastehuis verder gaan bruilof vier.
McKayla het Maandag vertel sy en Raylond kom van Albertinia en is oorspronklik van Rustenburg in Noordwes. Hulle woon die afgelope ses maande in die Suid-Kaap waar Raylond vir iemand boer.
Hulle het agt jaar gelede ontmoet en dit was destyds nie liefde met die eerste oogopslag nie. Eers was hulle net vriende en die afgelope twee jaar het hulle besef hulle is lief vir mekaar. Oor hoe haar troue moes wees het sy nie getwyfel. "Ek wou altyd in die buitelug trou. Die strand het na die perfekte plek gelyk."
Verlede week het hulle elke dag die weer dopgehou. "As ons ons ogies in die oggende oopgemaak het, het ons die weer dopgehou. Ons het besluit om te trou ongeag die weer. Saterdagoggend het ons besef die kanse is groot dat dit kan reën."
Die feit dat die gereën het, het hulle glad nie afgesit nie. "Die Here seën ons dubbel en dwars. Wat wonderlik was, is toe ons sê 'I do' het die son vir paar sekondes geskyn. Die Here was betrokke in ons huwelik en hy het alles moontlik gemaak."
Jean-Marì Josling eienaar van La Luna Picnics & Events het gesê sy was al betrokke by verskeie strandtroues en het ook die een aanmekaargesit. Dis 'n ander alternatief as tradisionele troues.
Aanvanklik is reën voorspel, maar teen 13:00 het die weer begin opklaar.
Raylond en McKayla Küzel Saterdag tydens hul troue op die strand by Wilderness. Foto: Charl Kemp Photography
Die gaste moes teen 15:45 hul sitplekke inneem en teen 16:00 het die seremonie begin. Alles het goed verloop tot die eerste soen en teen omstreeks 16:30 het dit hard begin reën. Sy het die egpaar as twee fantastiese mense beskryf.
"Dis altyd 'n voorreg om deel te wees van so 'n geleentheid."
Charl Kemp van Charl Kemp Photography het gesê tydens die laaste vier troues wat hy die afgelope maand afgeneem het, het dit gereën. Met verwysing na die weer het hy gesê die troue het sy uitdagings gehad, maar alles het tog goed afgeloop.
Raylond en McKayla Küzel Saterdag tydens hul troue op die strand by Wilderness. Foto: Charl Kemp Photography
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'