GEORGE NUUS - Bakens / Landmerke:
Die Montagupas
Die historiese Montagupas tussen George en Oudtshoorn is in 1972 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Dit beloop sowat 10 km in afstand en is 'n gruispad. Dit is in 'n redelike goeie toestand, maar dis raadsaam om eers vas te stel wat die toestand van die pad is voordat dit aangedurf word. Bouwerk aan die pas het reeds in 1844 begin en sowat 250 gevangenes is gebruik om die pas te bou.
Die ou tolhuis
Die tolhuis is in 1845 gebou. Dit het in 2018 afgebrand, maar danksy die inisiatief van Vriende van die tolhuis en Gerda Stols, is dit herstel en gerestoureer. Besoekers is welkom. Geen toegangsgeld word gevra nie, maar besoekers kan 'n donasie maak vir pannekoek en koffie. Die donasies word gebruik om die tolhuis te bedryf.
Die Kaaimansrivier-treinbrug
Die Kaaimansrivier-treinbrug is een van die bekendste bakens in Suid-Afrika. Dit is tussen 1925 en 1928 gebou. Dit is op 30 November 1928 in bedryf gestel. Dit beslaan 'n afstand van 210 m. Dis gebou deur die destydse Suid-Afrikaanse spoorweë en hawens. Oor die jare het menige besoekers daaroor per trein gery toe hulle gebruik gemaak het van die beroemde Outeniqua Choo Tjoe-trein. In 2006 moes die treinritte egter gestaak word na vloede en sedertdien het dit nog nie weer gery nie.
NG Moedergemeente
Die bekende kerkgebou van die NG Moeder-gemeente is selfs sigbaar van hoog in die Outeniquapas. Die hoeksteen is op 14 April 1832 gelê. As gevolg van finansiële uitdagings het bouwerk 12 jaar geneem om te voltooi en die kerk is op 9 Oktober 1842 ingewy. Eredienste word steeds Sondae in die kerkgebou gehou.
Kunsteteater in Yorkstraat
Verskeie teaterproduksies word op 'n gereelde basis hier aangebied. Dit is 'n historiese gebou en 'n bonus om die uitvoerende kunste in die gebou te beleef. Dit is in die Edwardiaanse tydperk (1900-1910) gebou, maar die gewels vertoon Kaap-Hollandse Herlewingstyl kenmerke. Bron: Okkie Stander, 'n Ondersoek na die bewarenswaardigheid van die Kaap-Hollandse Herlewingstyl geboue in George.
Stasiegebou
Die koms van die spoorlyn na George is deur sommige inwoners met gemengde gevoelens ontvang. Die stasie het 'n baie belangrike rol in die ontwikkeling van George gespeel.
Klipkerk in Pacaltsdorp
In Pacaltsdorp is verskeie geboue en terreine van historiese waarde. Daaronder is die ou klipkerk. 'n Besoek aan die ou klipkerk in Pacaltsdorp is beslis die moeite werd. Dit is reeds in 1825 ingewy.
Museums:
Outeniqua-vervoermuseum
As treine en vervoermiddele soos ou motors jou ding is, mag jy nie verby die Outeniqua-vervoermuseum ry nie. Dit is by Missionstraat 2. Dit is Maandae tot Vrydae van 08:00 tot 16:30 oop en Saterdae en openbare vakansiedae van 08:00 tot 14:00. Ruim genoeg tyd in vir 'n besoek. Daar is heelwat om te sien. In die uitstallings is onder meer verskeie ou stoomlokomotiewe en treinwaens. Daar is ook werkende modeltreintjies.
George-museum
Die George-museum word as 'n kulturele museum beskryf. Dit is 1967 deur Charles Sayers in Courtenaystraat begin. Dit word tans gehuisves in die gebou wat die eerste landdros, Adrian van Kervel, gebou het as Drostdy van 1812 tot 1815.
Herstel- en onderhoudswerk vind aan die geboue plaas. Mense wat die museum wil besoek word aangeraai om vooraf te bel: 044 873 5343 of 064 659 4877.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'