Gallery
GEORGE NUUS - Die rooi tapyt is verlede Vrydag letterlik uitgerol vir die meer as 300 genooide gaste wat die glansgeleentheid vir die heropening van die George-museum bygewoon het.
Die museum, wat vir sowat 18 maande gesluit was, is nou opgegradeer en veiliger. Die gedagte is om al die gemeenskappe te betrek en dit meer gemeenskapsvriendelik te maak.
Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport het spesiaal die geleentheid bygewoon en Leon van Wyk, George se eerste burger, het die gaste verwelkom. Die bekende akteur, Ivan Zimmerman, was ook onder die uitgenooide gaste. Leerlinge van talle skole het dit ook bygewoon en die jeug verteenwoordig.
Gaste is trakteer op musiek, dans en ook 'n uitstalling van kunswerke. Kunstenaars sover as van Stilbaai se kunswerke was te sien.
Die land se volkslied is ook deur aanwesiges gesing.
Van Wyk het in sy verwelkoming gesê dis 'n eer om die verwelkoming tydens die geleentheid te kan doen. Dit verskaf hom groot vreugde om te sien wat by die museum gedoen is en gevestig is. Dis 'n tapisserie van die ryke geskiedenis wat vir die volgende geslag bewaar kan word.
'n Paar jaar gelede is 'n deel van die museum in 'n brand beskadig. Die Wes-Kaapse provinsiale regering het betrokke geraak by die heropbou hiervan.
Hy sal graag wil sien dat mense die museum besoek. Daar is baie om te sien. Die museum sit in die middel van die historiese deel van George.
Marais het gesê haar departement is verbind om die verhale en relevante items van die verlede te bewaar op so 'n wyse dat dit deel is van die plaaslike gemeenskap.
Dirk Wessels, (links) 'n burgemeesterskomiteelid van die George-stadsraad en Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, in gesprek tydens Vrydagaand se geleentheid.
Sy het inwoners aangemoedig om eienaarskap van die museum te neem en trots daarop te wees.
Volgens haar is dit opwindend om te sien dat kulturele aktiwiteite deel uitmaak van die George-museum. Museums het die mag om soveel verskillende mense bymekaar te bring. 'n Ruimte word ook geskep vir plaaslike kunstenaars om hul kunswerke te kan uitstal.
Sy glo die idee van die museum as kultuursentrum sal groei. Die George-area is ryk aan geskiedenis en die museum speel 'n belangrike rol om die geskiedenis te bewaar.
Marais het al die belanghebbendes bedank vir hul aandeel om die museum op te gradeer. Sy het die hoop uitgespreek dat die museum mense sal inspireer om dit te besoek. Dis wonderlik om te sien dat die jeug betrokke is. Dis die jeug wat die keuse maak om aan die 'goeie bendes' te behoort en nie aan die 'slegte bendes' nie.
Dansers besig om gaste te vermaak tydens Vrydag se geleentheid. Foto's: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’