‘n Prettige opedag word op 26 Maart by die Outeniqua Vervoermuseum in George aangebied. Dit word gesien as die eerste van soortgelyke geleenthede wat op ‘n gereelde basis gehou sal word.
GEORGE MUSEUM - ‘n Opedag word op Saterdag, 26 Maart by die Outeniqua Vervoermuseum in George gehou.
"Dit is hopelik die begin van iets spesiaals wat sal groei en ontwikkel tot ‘n maandelikse instelling in George," sê Kobus Volschenk, die koördineerder.
Daar word vir die toekoms beplan om ’n wye verskeidenheid van aktiwiteite en dienste aan te bied.
Hulle skop die dag af met spesiale aanbiedings wat insluit gratis toegang tot die museum, ‘n 20% korting op aankope by Sun Africa en by Molley’s Place, asook ‘n 20% afslag deur Outeniqua Power Van op hulle rit om 13:00 (vooruitbesprekings noodsaaklik). Sien die Outeniqua-berge op die gemaklike manier, sit terug en bewonder die natuur, die Montagupas, Tier-kloof en vele meer.
Stimela Restaurant bied ook ‘n 20% korting aan (op twee soet pannekoeke en koffie of tee, of warm sjokolade).
Spesiale toegang sal ook verleen word tot die Van Riebeek-koets, Paul Kruger se rytuig en die koninklike wa vir neem van foto’s binne die historiese rytuie.
‘n Begeleide toer van die museum vind plaas om 10:00 en 12:00. Hier kan gaste meer te wete kom van die ryke geskiedenis wat hier bewaar word.
Uitstalling deur plaaslike kunstenaars
Volschenk het ‘n uitnodiging gerig aan plaaslike kunstenaars om die museum te kontak by 044 8018 289 om te reël om hulle kunswerke gratis ten toon te stel.
"Daar word veral gekyk na persone wat blommerangskikkings doen, koeke vir spesiale geleenthede bak, klere maak, houtwerk doen, plante kweek of ander kunsartikels skep. Daar kan egter nie op hierdie stadium toegelaat word dat enige persoon regstreeks met die bestaande huur-ders meeding nie," sê Volschenk.
Uitstalruimte word aangebied en die persoon kan sy/ haar artikels tentoonstel met die idee om bestellings te neem. "Sodoende word ‘n positiewe bydrae gelewer tot die ontwikkeling van kleinsakeondernemings. Enige besigheid wat snaakse gadgets vir huishoudelike doeleindes verkoop of ‘n spesiale aanbod op produkte het, is welkom om my te kontak."
Versamelaars
Volschenk sê hy wil van die dag iets spesiaals maak en wegbreek van die normale stereotipe vlooimark-atmosfeer en eerder op die kunshandwerker konsentreer. "Versamelaars van sekere items soos porseleinpoppe, miniatuur speelgoed (dinky toys), penne, teepotte, pype of enigiets wat besonders is, kan van die geleentheid gebruikmaak en sodoende kontak maak met ander versamelaars om items te ruil of te verkoop. Dit is iets anders in George wat nêrens anders gevind gaan word nie. In kort, één groot kunsmark onder een dak, met die vervoergeskiedenis van Suid-Afrika as agtergrond."
Toekomstige uitstallings
Daar word verder beplan om in die toekoms spesiale aanbiedings op sekere dae te hê, byvoorbeeld ‘n uitstalling van die inheemse plante van George en omgewing, indringerplante in die streek, die verskeidenheid Proteas wat hier aangetref word, ‘n demonstrasie deur mediese nooddienste, brandbestryding, honde-eenheid van die SAPD, inligting oor kanker, herwinningsprojekte om die omgewing te bewaar, volhoubare watergebruike en vele meer onderwerpe.
"Met ander woorde die dag moet nie net vir die skattejagter iets bied nie, maar moet ook opvoedkundig van aard wees," sê Volschenk.
Posted on: 12:09 Wed, 16 March 2011
Your Comments
Confirmed Covid-19 cases in Garden Route District: