GEORGE NUUS - George-inwoner Benneth Potts, is op soek na die bestuurder van 'n wit sedanmotor wat die afgelope naweek teen sy motor gebots en weggery het sonder om te stop.
Potts se motor is sleg beskadig tydens die botsing Saterdagaand omstreeks 20:30 in Yorkstraat by een van die twee nuwe verkeersirkels wat tans onder konstruksie is.
"Ek was op pad dorp toe uit Pacaltsdorp met drie passasiers. In Yorkstraat by die tweede sirkel waar daar tans padwerke is, het 'n voertuig van voor af reguit op my afgepyl. Dit is in die aand baie donker daar. Ek kon darem uitswaai en die voertuig het my motor teen die een agterdeur getref, aan die kant waar 'n ma met haar baba gesit het. Die ander voertuig was 'n wit sedan waarvan die buffer voor aan die bestuurder se kant beskadig is. Ek weet, want daar het stukke van die buffer op die toneel gelê."
Volgens Potts het die persoon weggery sonder om te stop. Potts het die saak by die polisie aangemeld.
"Terwyl ons daar gestaan het, het 'n polisievoertuig verby gery en nie eens kom vra of hulle kan help nie. Ek sou graag die persoon so gou moontlik wou opspoor."
Hy het nie die ander voertuig se registrasienommer nie.
Potts doen 'n beroep op getuies of enigiemand wat inligting het wat kan help met die opspoor van die ander bestuurder, om hom te bel by 081 000 8158.
George Herald het 'n navraag in verband met die ongeluk aan die polisie gestuur, maar het teen druktyd geen terugvoer ontvang nie. Hulle kommentaar sal by die aanlynweergawe van die artikel bygevoeg word sodra dit ontvang word.
Die skade aan Benneth Potts se voertuig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’