Update
GEORGE NUUS - Die 24-jarige Ruhan (Twakkie) Wolmarans wat op Saterdagoggend 28 Mei in 'n motorfietsongeluk in Courtenaystraat dood is, se heengaan laat 'n geweldige leemte, sê sy verloofde, Annemi du Plessis.
"Ons was amper vier jaar saam en het 'n 20 maande oue seuntjie, Nathan. Ruhan se groot liefde was motorfietse. Hy sou 50 kilometer ry om melk te gaan koop as hy met sy motorfiets kon kry," het sy aan George Herald vertel.
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoord-voerder, kapt Malcolm Pojie, dui die voorlopige ondersoek daarop dat Wolmarans in Courtenaystraat in 'n oostelike rigting gery het toe hy 'n motor van agter getref het. Die ongeluk het omstreeks 02:30 gebeur.
'n Saak van strafbare manslag is geopen vir verdere ondersoek. Die 24-jarige bestuurder van die motor is vir dronkbestuur gearresteer en 'n dossier is geopen. Hy is later op waarskuwing vrygelaat om op 'n latere datum in die hof te verskyn. "Ondersoek in beide sake duur voort," het Pojie gesê.
Wolmarans het die afgelope vier jaar vir Karoo Verkoeling gewerk. Volgens Du Plessis was hy uiters hardwerkend.
"Hy sou ook enigiets doen vir my en Nathan en sou altyd uit sy pad gaan om seker te maak ons is oukei. Hy was altyd die eerste om hulp aan te bied, of dit nou vir familie, vriende of iemand op straat was."
Sy sê Wolmarans wou altyd alles regmaak. "Dit was al 'n grap in ons gesin. My pa gee iets vir hom wat nie meer werk nie en 'n paar dae later het Ruhan dit reggemaak, of dit nou 'n ysmasjien of 'n lugbraaier was.
"Hy was 'n wonderlike man en pa en hy los 'n baie groot leemte in ons harte. Hy was almal se vriend en die lig in baie mense se lewe. Hy sal onthou word vir die ongelooflike mens wat hy was en die beste pappa waarvoor enige seun kon vra. Ons gesin is in stukke en dit sal vir nog baie lank seer wees as ons aan hom dink."
Wolmarans se neef, Corné Mouton, sê hy was soos 'n broer vir hom. "Hy was 'n aangename mens en baie lief vir sy werk, sy familie en vir Annemi en Nathan. Hulle twee was sy trots. Ruhan was ook baie liefdevol. As hy vir iemand iets kon doen, sou hy dit gedoen het. Ons gaan hom bitter baie mis."
Benewens sy verloofde en seun, laat Wolmarans ook sy ma Ronel en suster Venessa agter.
Sy begrafnis is op Saterdag 4 Junie om 11:00 by die NG Kerk Denneoord.
Wyle Ruhan Wolmarans en sy seun Nathan.
Previous article: Motorcyclist dies in accident
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'