GEORGE NUUS - Hy was 'n driejarige toe sy pa hom per ongeluk met 'n mes in die long gesteek het, en hy was nege jaar oud toe hy sy pa se liggaam gevind het, nadat hy selfmoord gepleeg het.
Die plaaslike komediant en akteur, Moses Williams, moes in sy 27-jarige bestaan al deur diep waters gaan, maar dit was juis deur komedie wat hy die donker tye oorleef het.
Deesdae maak hy sy buiging as akteur in vyf films wat op kykNET te siene is, terwyl sy eie eenmanvertoning, Ouma Sarie, vinnig besig is om bekendheid te verwerf. Williams speel ook 'n rol in Umbrella Man wat einde verlede jaar in Kaapstad verfilm is en tans op Evod beskikbaar is (Evod is 'n elektroniese betaal-platform vir films en videos).
"Deur komedie het ek lig in my lewe gebring. Dit is die fokus van my lewe en dit is ook my beroep," het Williams gesê.
Die film Hart-In-Bos waarin Williams toevallig 'n karakter vertolk met dieselfde naam, "Moses", is verlede Saterdag, 13 Augustus, op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Dit sal eersdaags op Catch-Up te siene wees.
Saam met Williams verskyn nóg drie Georgiete, Aldo Calitz, Anton Treurnich en Brutney Singrew. Treurnicht is ook die amptelike skrywer van die film, en een van die skrywers van die trefferreeks op kykNET, Die Byl. Hart-In-Bos is deur Garden Route Media vervaardig met Lika Berning as direkteur.
Die plaaslike akteurs skuur skouers met groot name soos Hannes Muller van Groet die Grotman-faam, Ivan Zimmerman wat as Koert Weideman in die sepie Egoli: Plek van Goud bekendheid verwerf het en die veteraan aktrises Lindie Stander (Elise Kruger in Binnelanders) en Nadia Valvekens (Pippa in Binnelanders).
Ouma Sarie en Terrance Mario Kammies van Dysselsdorp, tydens 'n opvoering Saterdagaand in die George-kunsteteater. Kammies het in 'n voorskou, die gaste beïndruk met sy dans en kletsrym.
Soos 'n handskoen
Die genre, romantiese komedie, pas Williams soos 'n handskoen en hy kan nie uitgepraat raak oor die ondervinding wat hy tydens die verfilming opgedoen het nie. Hart-In-Bos se verfilming het op Williams se 27ste verjaarsdag, 9 Februarie, in Hartenbos begin. Dit is die eerste film waarin Williams 'n volwaardige rol speel en nie net in die agtergrond verskyn nie.
"Ek het dialoog!" het hy opgewonde gesê. Williams se seuntjies is twee en vyf jaar oud en was baie opgewonde om hul pa in 'n film te sien. "Hulle het my in elke liewe cut in die voorskou gesien," het hy vertel.
Williams het ook in Julie in die film Moordenaars Karoo verskyn, wat deur Marius Wannenburg van Garden Route Media vervaardig is.
"Ons het altesaam vyf films in vyf maande geskiet. Dit het alles reeds die begin van die jaar plaasgevind.
Volgens Williams was dit 'n belewenis om saam met gesoute akteurs op te tree. "Die lekkerste was die ervaring, want jy kom op stel en ontmoet hierdie groot name wat nou al vir jare in die bedryf is. Ek was effens op my senuwees. Jy het byvoorbeeld 'n toneel waar jy saam met Hannes Muller toneel speel en jy hoop dat jy op hulle vlak kan meedoen. Dit was super amazing en hulle het dit so maklik gemaak vir jou as 'n local. Dit is iets wat my hele lewe by my sal bly."
Hart-In-Bos se verfilming het op Williams se 27ste verjaarsdag, 9 Februarie, in Hartenbos begin. Dit sal eersdaags op Catch-Up beskikbaar wees.
Staaltjie
Williams vertel hoe sy kinders dit aanvanklik vreemd gevind het as mense hom aanspreek as "Ouma" of "Ouma Sarie", na die karakter wat hy vertolk in aanlyn video's wat deesdae groot aanklank vind. "Ek is 'n paar keer snaaks aangekyk veral deur my oudste," het Williams vertel.
"Deesdae as ek die pink gown aantrek en my lig opstel om 'n video te maak dan sal hulle mekaar alreeds van die begin af 'ssssssssht' en stil maak want hulle weet dit is nou Ouma Sarie se tyd. Hulle het so 'n cheerleader song vir my as ek begin aantrek. Dan sing hulle 'Ouma Sarie, Ouma Sarie, Ouma Sarie'."
Moses Williams as Ouma Sarie in sy eenmansvertoning, Ouma Sarie: It wasn't Matter.
Lees meer oor Ouma Sarie by georgeherald.com.
Moses Williams
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'