GEORGE NUUS - Onwettige rommelhope in George Industria en New Dawn Park het 'n bekommerde belastingbetaler radeloos. Die inwoner, wat graag anoniem wil bly, het 'n skrywe aan burgemeester Melvin Naik gerig waarin hy vra of die munisipaliteit dit nie sal oorweeg om die spesifieke areas in Binnestraat en Bougainvilla-rylaan te omhein of grootmaathouers (skips) te voorsien waarin mense hul gemors kan stort nie.
"Dit het al 'n tradisionele onwettige stortingsterrein geword," het die inwoner gesê. "Dit blyk dat enige pogings tot dusver om die areas skoon te hou, geen vrugte gewerp het nie."
Die direkteur van gemeenskapsdienste, Walter Hendricks, het die inwoner bedank vir die foto's wat hy geneem en gestuur het. Volgens Hendricks is die plekke waarna verwys word oop ruimtes van die munisipaliteit en mag dit nie omhein word nie.
"Grootmaathouers sal binne die volgende jaar in die woonbuurte, soos by New Dawn Park, aangebring word, maar nie by plekke soos Binnestraat, wat 'n "hot spot" is nie," het Hendricks gesê.
Binnestraat in George Industria is 'n seer vir die oog.
Hendricks het egter bevestig dat die betrokke gebiede op die reinigingsafdeling se lys is om skoongemaak te word. Hy het gesê die afdeling sal 'n oplossing ondersoek om mense met voertuie te verhoed om by Binnestraat te stort.
"Die reinigingsafdeling het vasgestel, volgens die afval wat daar gestort is, dat dit besighede in die omgewing is wat in Binnestraat onwettig stort. Die afval kom nie van die woonbuurte af nie," het Hendricks gesê.
Lees 'n verwante artikel: Help só om morsjorse vas te trek
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'