GEORGE NUUS - Inwoners van die Moeggeploeg informele nedersetting in Seaview, Pacaltsdorp, is keelvol vir die slegte elemente in hul buurt.
Sondagoggend omstreeks 08:00 het verskeie lede van die gemeenskap saamgestaan om altesaam vyf wonings van vermeende tikhandelaars plat te trek.
"Hulle was besig met hulle dinge toe ons daar aankom. Ons gaan nie meer hierdie nonsens vat nie," het Rudy Ruiters, een van die nedersetting se bestuurskomiteelede gesê.
"Ons het so twee weke gelede 'n opname gemaak en uitgevind van die ouens bly nie in hutte wat aan hulle toegeken is nie. Hulle het nie 'n mandaat om daar te wees nie en hulle doen onwettige dinge."
Volgens Ruiters doen hulle self patrollies om toe te sien dat alles in hulle area vlot verloop. Die polisie het glo gehelp om te keer dat die onwelkomes nie weer hutte bou nie.
"Die polisie het beslag gelê op 'n lelike kapmes van een van hulle," het Ruiters gesê.
'n Ander inwoner wat graag anoniem wil bly het gesê Moeggeploeg is deesdae nie meer so veilig nie. "'n Mens bly maar eerder by jou huis en sorg dat jy vroeg saans tuis is," het hy gesê. "Die ouens steek wapens in ander inwoners se tuine weg. Ons is maar baie versigtig."
Volgens nog 'n inwoner is die inwoners van die "dwelmhuise" gewaarsku dat hulle plekke afgebreek gaan word as hulle nie stop met onwettige aktiwiteite nie.
Provinsiale polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, het by navraag bevestig dat die polisie se eenheid vir openbare orde verlede Saterdagaand, 15 Januarie, op 'n klagte gereageer het.
"'n Groep oproerige jongmense, gewapen met onder andere hokkiestokke, is in Hibiscusstraat, Pacaltsdorp, aangetref. Die groep was oproerig en wou die polisielede aanval, waarna 'n enkele skokgranaat gebruik is om die groep oproeriges uiteen te jaag," het Pojie gesê.
Hy het bevestig dat geen sake aanhangig gemaak is nie. Die groep is daarna vreedsaam uiteen.
Nog 'n hut word platgetrek.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'