MOSSELBAAI NUUS - Die Mighty Men Mosselbaai Konferensie (MMCMB23) word hierdie jaar vir die eerste keer by die Bartelsfontein-plaas buite Mosselbaai aangebied.
'n Plaaslike gebedsgroep, Coffee for Men, het reeds op 27 Oktober 'n 12m hoë staalkruis op die perseel op die R327 opgerig.
Lukas Swart, hooforganiseerder van MMCMB23, het by die aanskakel van die ligte op die kruis gesê: "In ons Christelike geloof verteenwoordig die kruis verlossing en redding, vergifnis en versoening, lyding en opoffering, oorwinning oor die dood, identifikasie van ons geloof, en eenheid in die gemeenskap."
Die 2023 Mighty Men Mosselbaai Konferensie skop op Vrydag, 15 Desember, af met verskeie sprekers soos Jo Black, Alwyn Uys, pastoor Desmond Wessels, John Mathuhle, Lukas Korf en Mark Ellis wat oor die drie dae sal optree.
Die Mighty Men Konferensie is gratis, maar voornemende besoekers moet registreer. Bywoning op 15 en 16 Desember is slegs vir mans, maar Sondag 17 Desember is oop vir gesinne.
"Bring 'n piekniekmandjie saam en kom loof saam as 'n gesin," nooi Swart.
Kampplek is beskikbaar teen 'n minimale koste, en kampeerders moet registreer en besprekings op die webwerf maak. Daar word verwag dat baie dagbesoekers, wat reeds met vakansie is, ook die verrigtinge sal bywoon.
"Gesinne kan kies om gedoop te word, en daar is 'n spesiale geleentheid vir seuns om deur hul gesinne as mans verklaar te word," verduidelik Swart.
Volgens die organiseerders verwag hulle 'n groot toeloop van besoekers.
Vir meer inligting besoek: Mightymenmosselbay.co.za
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’